100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Algehele Afsondering Word Afgekondig

Written by on March 24, 2020

Op Maandagaand 23 Maart 2020 het Pres. Cyril Ramaphosa 21 dae van algehele afsondering (lockdown) aangekondig. Hierdie drastiese stap is noodsaaklik om die verspreiding van die koronavirus (Covid-19) dringend te beperk.

Die besluit is nie ligtelik geneem nie en volg ná ʼn vergadering met verskeie rolspelers om die sosio-ekonomiese trefslag van Covid-19 en die impak op armes, kwesbares en werkers te bespreek. Sakeleiers het ook die vergadering by die Uniegebou op Sondagaand 22 Maart bygewoon.

In sy toespraak het pres. Ramaphosa gesê Suid-Afrikaners se reaksie op hierdie krisis was merkwaardig en hy het almal daarvoor bedank.

“Baie moes moeilike besluite neem en opofferings maak, maar almal was vasberade dat hierdie keuses en opofferings absoluut noodsaaklik is indien ons land sterker aan die ander kant van hierdie ramp wil uitkom,” het hy gesê.

In sy toespraak het pres. Ramaphosa spesiaal melding gemaak van gesondheidwerkers, dokters, verpleegster en paramedici wat aan die voorpunt van die geveg teen die virus staan asook onderwysers, doeanebeamptes, polisie- en verkeersbeamptes wat almal ʼn belangrike rol in hierdie geveg speel.

Hy het ook na die skerp styging in Covid-19 gevalle verwys. Met sy toespraak verlede week Sondagaand toe die noodtoestand afgekondig is, was daar wêreldwyd 160 000 gevalle. Kort voor sy toespraak op Maandagaand het dit tot by 340 000 gevalle wêreldwyd gestyg. Ook in Suid-Afrika was daar ʼn sesvoudige styging van 61 gevalle tot 402.

Pres. Ramaphosa het dit baie duidelik gestel dat die volgende paar dae baie belangrik is en daarom is die besluit van algehele afsondering geregverdig. Hy het gesê sonder beslissende optrede sal die getal mense wat met die virus besmet is toeneem van ʼn paar honderd na tien duisende en dan binne ʼn paar weke na honderde duisende. Hy het ook gesê Suid-Afrika se bevolking het boonop ʼn verderde risiko weens die groot aantal mense met onderdrukte immuniteit weens MIV en tuberkulose asook hoë vlakke van armoede en wanvoeding.

Hy het hierna die aankondiging gemaak dat ’n toestand van algehele afsondering vir 21 dae ingestel word. Dit tree Donderdag 26 Maart om middernag in werking. Die afsondering sal uitgevoer word kragtens die Wet op Rampbestuur.

“Dit is ʼn beslissende maatreël om miljoene Suid-Afrikaners teen infeksie te beskerm en die lewens van honderde duisende mense te red. Alhoewel hierdie maatreël ʼn groot impak sal hê op mense se lewens, ons samelewing en die ekonomie, sal die koste baie groter wees om dit uit te stel,” het hy gesê.

Pres. Ramaphosa het sy toespraak afgesluit met ʼn beroep aan almal om ons deel te doen.

“Wees dapper, wees geduldig en bowenal – wees meelewend. Laat ons nooit wanhopig word nie. Want ons is ’n verenigde nasie en ons sal beslis seëvier. Mag God ons mense beskerm.

“Nkosi Sikelel’ iAfrika. Morena boloka setjhaba sa heso. God seën Suid-Afrika. God bless South Africa. Mudzimu fhatutshedza Afurika. Hosi katekisa Afrika.”

 

Alita Steenkamp


×