100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

AfriForum Laeveld help met rampverligting

Written by on November 6, 2020

AfriForum se Laeveld-takke het die afgelope weke skouer aan die wiel gesit en ingespring om die boere by te staan ná verwoestende veldbrande onlangs erge skade in die Vrystaat, Noordwes en Noord-Kaap aangerig het.
Na raming is minstens 200 000 ha in verskeie brande verwoes.
Die organisasie se takke in Witrivier, Mbombela en Lydenburg kon binne dae daarin slaag om sowat R40 000 in te samel.
Volgens die distrikskoördineerder in die Laeveld, Hennie Bekker, is dit bedoel vir brandstof sodat veevoer na die brandgeteisterde gebiede gestuur kan word.
Verder het hulle aflaaipunte vir AfriForum se Boks vir ’n Boer-projek reg oor die Laeveld gereël.
Radio Laeveld was self een van hierdie punte, en luisteraars het gewys hulle het harte van goud deur ruim skenkings te maak.
Huishoudelike items, medisyne vir vee en sakke voer is aan die boere en hul plaaswerkers geskenk wat ondanks die erge droogtes nou ook nog die brande se verwoesting moes verduur.
Bekker het elke persoon en onderneming bedank wat op enige manier tot die projek bygedra het.
“Ons wil ook graag Skankane Transport uitsonder wat gehelp het om die skenkings te vervoer,” sê hy. “Dit is weereens ’n bewys dat die krag van gemeenskappe selfs die grootste rampe kan oorkom.”
Volgens AfriForum se mediaskakelbeampte, Chanté Kelder kon hulle landwyd, van verskillende organisasies, tot dusver meer as R4 miljoen vir die boere insamel.

Kelder sê hulle het nie elke boks wat geskenk is getel nie, maar kon verskeie konvooie trokke verlede week met skenkings Boshoff toe stuur.
Dit is Aan die plaaslike landbou-unie oorhandig, waarna die vrouelandbou-unie dit versprei het.


×