100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

120 renosters in Groter Kruger-gebied hervestig

Written by on June 11, 2024

Die verskuiwing van 120 renosters is in alle opsigte ‘n enorme onderneming en het “baie, baie slapelose nagte” gekos – sowel as uitgebreide finansiering.

Aan die woord is Sharon Haussmann, hoof uitvoerende beampte van die Groter Kruger-omgewingsbeskermingstigting (GKEPF).

Die suidelike witrenosters is pas geskuif na private ledereservate van die GKEPF aan die westelike grens van die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) en die Groter Kruger-gebied in Mpumalanga en Limpopo.

Dit is die eerste keer in 50 jaar dat renosters vanaf buite die Krugerwildtuin hier hervestig word.

Hoewel die diere nie in die wildtuin self vrygelaat nie, versterk die strategiese plasing aan sy grens die renoster-metabevolking en lê  dit die grondslag vir potensiële toekomstige samewerking terwyl die NKW sy stryd teen stropery voortsit.

Die GKEPF is in 2016 gestig as ‘n alliansie van nege private reservate, ‘n provinsiale park en ‘n nasionale park om in die beskermingsbehoeftes van die westelike en oostelike buffers van die Krugerwildtuin en die Groter Limpopo Oorgrens Nasionale Park te voorsien.

Die verskuiwing kom op ‘n tydstip wat stroperysyfers binne dié reservate aansienlik afgeneem het.

Agtergrond

In September het African Parks die wêreld se grootste gevangene-renosterteeloperasie gekoop in ‘n poging om 2 000 renosters te red na ‘n mislukte veiling.

Die doelwit was om almal te hervestig in goed bestuurde en veilige beskermde gebiede om bevolkings te vestig of aan te vul.

Volgens Peter Fearnhead, hoof uitvoerende beampte van African Parks, sal die jongste skuif die bestaande renosterbevolking in die Groter Kruger vergroot en verseker dat die renosters hul rol in hul natuurlike omgewing vervul.

Haussmann sê die hervestiging self getuig van die kumulatiewe kennis, vennootskappe en insigte van ‘n uitgerekte tydperk van teen-stroperypogings.

“Die voordele oorskry so duidelik die risiko’s. Dit bied ‘n gulde geleentheid om die pogings van almal te beloon wat toegewyd gebly het om renosterbevolkings te beskerm te midde van uiters uitdagende omstandighede die afgelope 10 tot 15 jaar,” sê sy.

Die renosters se horings is almal verwyder.

“Dit is ‘n baie doeltreffende manier om die stroper risiko te verminder,” sê Markus Hofmeyr, wildveearts en direkteur van die Rhino Recovery Fund. “Ons is op ‘n punt waar hierdie risiko goed bereken is.”

Die verskuiwing is die tweede fase van een van die grootste wildhervestigingsprojek in Afrika en vorm deel van African Parks se Rhino Rewild-inisiatief.

Hulle beplan om 2 000  renosters oor die volgende tien jaar in beskermde gebiede in Afrika te hervestig.


×