100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Wenk van besoeker help om drie stropers vas te trek in die Krugerwildtuin

Written by on July 4, 2022

Drie vermeende stropers sal na verwagting vandag in die hof in Bosbokrand verskyn na hulle Vrydag in die Krugerwildtuin vasgetrek is toe ‘n besoeker aan die park geweerskote gehoor en gerapporteer het.
Veldwagters het dadelik ‘n helikopter na die area ontplooi en die drie mans is in besit van onder meer ‘n jaggeweer met ‘n knaldemper gevind.
Drie renosterhorings is ook in die omgewing gevind, sowel as die karkasse van vier renosters.
Die horing van die een is nie verwyder nie. Mpumalanga polisiewoordvoerder, brig. Selvy Mohlala, sê dit lyk asof die mes waarmee hulle dit wou afsny gebreek het.
Volgens die polisie is al drie mans tussen 23 en 49 jaar oud en van Mosambiek. Hulle word ook aangekla van oortreding van die Wet op Immigrasie.

Die provinsiale polisiekommissaris, luit. gen. Semakaleng Manamela, het die veldwagters geloof vir die arrestasie.
“Ons is vasbeslote dat dit sal dien as ‘n waarskuwing aan ander, dat hulle nie bloot die wildtuin kan betree en jag soos hulle wil sonder om die gevolge te dra nie,” sê sy.

Foto: Ter illustrasie


×