100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Wat ouers moet weet oor verhoogde slangaktiwiteit in die Laeveld

Written by on March 20, 2021

Slangkenners sê dit is nie ongewoon dat slange tans meer aktief is in die Laeveld nie.
Van Wijkstraat-dierehospitaal se dr. Donnie Engelbrecht sê hulle het verlede week drie honde behandel vir slangbyte. Een was van ‘n mamba (dit was gelukkig ‘n klein slang wat ‘n redelik droë byt toegedien het) en twee spoegkobras wat die honde gespoeg en gebyt het.
Cobus Els van ER24-ambulansdienste sê daar is oor die algemeen ‘n groter voorkoms van slangbyte in landelike areas – soos met die oes van suikerriet.
“Uit ervaring kruis volwassenes se paaie meer met slange,” voeg hy by. “Ek vermoed dit is weens mense wat in die veld werk of motorfiets ry.”
Aan die ander kant is kinders natuurlik kleiner en het ‘n vinniger metabolisme, “so as hulle gebyt word, is dit meer gevaarlik”.

Wanneer iemand gebyt word, moet die mens wat hulp verleen heel eerste seker maak die slang is nie meer in die area nie.
“Hou die pasiënt kalm. Dit is moeilik, maar dit is nodig. Die pasiënt moet ook nie beweeg nie. Die mikpunt is om hul hartklop so laag as moontlik te hou om die verspreiding van die gif so stadig as moontlik te hou.”
Hy beveel ook aan dat alle juweliersware of klere rondom die wond wat ‘n probleem kan raak as daar swelling is, verwyder word.
Bly ook weg van ‘n toerniket, ys en alkohol of kaffeïen wat absorbsie van die gif bevorder.
“Moenie die gif probeer uitsuig nie, want jy kan dit self inkry.”
Die belangrikste is om die persoon so vinnig moontlik by ‘n hospitaal te kry. Dit is ook belangrik om nooddienste te kontak.
“Ons kan dit simptomaties behandel tot by die hospitaal waar teengif gekry kan word,” verduidelik Els. “Tyd is ‘n groot faktor. Bel ‘n ambulans, veral omdat ons in mamba-wêreld woon.
“Neurotoksiese slange onderdruk asemhaling, iets wat ons maklik en eenvoudig kan behandel.”
Volgens Anneke van Schoor van Lowveld Venom Suppliers word slange in die Laeveld bloot minder aktief tydens die winter, en hiberneer hulle nie.

“Dit is warm, daar is baie kos. Ons slange slaap nie in die winter nie, ons het nie koue temperature nie. Hulle is minder aktief, maar paartyd vir swart mambas is Junie en Julie.”
Wanneer temperature warmer as 21 grade word, raak slange meer aktief. Die huidige baie warm weer en humiditeit noop hulle ook om koelte te kom soek, soos by mense se huise, verduidelik sy.
“Konflik tussen troeteldiere en slange is baie algemeen.”
Engelbrecht sê die belangrikste is dat ‘n mens so gou as moontlik hulp kry wanneer diere gebyt word.

‘n Swart mamba se gif werk baie vinnig – jou troeteldier sal binne 10 tot 15 minute simptome toon.
Van Schoor voeg by dat ‘n tekort aan teengif besig is om uitgesorteer te word.
“Daar was ‘n probleem met die produksielyn, maar hulle is weer volstoom aan die gang. Dit is in die pyplyn dat die tekort uitgewis gaan word.”
Haar raad is om jou erf skoon en jou gras kort te hou – en dalk te leer hoe om self slange te verwyder by Lowveld Venom Suppliers.
Wanneer jy egter ‘n glibberige, beenlose reptiel in jou erf aantref, kontak hulle by 082-372-3350.
As jou dier gebyt word, kontak Van Wijkstraat-dierehospitaal by 013-744-1836 of 082-441-7084 in noodgevalle en na-ure.


×