100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Waarskuwing oor grypdiewe in Mbombela

Written by on January 13, 2022

‘n Man was vanoggend amper die slagoffer van ‘n grypdief wat items van agter op sy bakkie probeer steel het.
‘n Ooggetuie, Deon Meyer, het agter die bakkie gewag om regs te draai op Madibarylaan by die Samora Machel-kruising in die rigting van Crossing-sentrum toe hy dit sien gebeur.
Eers het een man, wat om ongeveer 06:45 by die kruising gebedel het, om die bakkie geloop en toe het sy makker ‘n graaf kom gryp en weggehardloop. Beide Meyer en die bestuurder van die bakkie het hom agternagesit en hy het dit laat val en gevlug.
John Meintjies van ACS Sekuriteit sê dit gebeur veral op die kruising van Samora Machel-rylaan en Henshallstraat by die Promenade in die middedorp. Dit het voorheen ook gereeld by die kruising van Madibarylaan met die Ou Pretoria-pad voorgekom.
Meintjies sê dit is ‘n geleentheidsmisdaad wat by kruisings met meer as een baan uitgevoer word.”Daar is altyd mense op die sypaadjie wat wag vir die verkeerslig om te verander. Diewe nader jou vinnig en gryp wat hulle kan.
“As jy in die middel is, met karre voor, langs en agter jou, wat kan jy doen?”
Hy het wel raad. Wees bedag en kyk om jou rond vir mense wat jou dophou of nader. Hou jou venster net op ‘n skrefie oop by besige kruisings. Laat ook ‘n spasie tussen jou en die kar voor jou. Dit is algemene praktyk in Gauteng waar motorkapings algemeen is.
“Dan kan jy vinnig vorentoe en dalk weer agtertoe ry as jy moet. Moenie op jou foon sit of net vir die kar voor jou of vir die verkeerslig staar nie.”

Sit handsakke en skootrekenaars eerder op jou voertuig se vloer of onder die sitplek of in die bagasiebak.
“Hulle is geneig om vroue wat alleen in die voertuig is, en bakkies met los gereedskap agterop, te teiken. Ek weet nie van baie ruite wat uitgeslaan word nie,” sê Meintjies.
Meyer sluit af dat ‘n mens nie net kan staan en kyk hoe sulke dinge met ander gebeur nie, “anders gaan daar nooit ‘n verandering wees nie.”


×