100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Verskeie verdagtes aangekeer vir moord oor feestyd

Written by on December 28, 2023

Die polisie in Pienaar buite Mbombela sê hulle het sedert 16 Desember vyf verdagtes in hegtenis geneem weens vier verskillende moorde.

In een voorval is ‘n man in die hoofstraat in die Mashego-area in die bolyf geskiet.

‘n Vuurwapen is langs die lyk gevind en ‘n 38-jarige verdagte is gister i.v.m. dit aangekeer.

Twee verdagtes, insluitend ‘n taverne-eienaar, is Dinsdag op aanklag van ontvoering en moord gearresteer.

Daar word beweer dat hulle die slagoffer op 16 Desember ontvoer het nadat hulle hom van diefstal beskuldig het.

Hy is na bewering by die taverne aangehou en aangerand totdat hy baie swak was.

Die volgende oggend is hy na ‘n kliniek geneem en toe na ‘n hospitaal verplaas, maar hy het aan sy beserings beswyk.

Op 22 Desember is ‘n slagoffer doodgesteek en ‘n 29-jarige verdagte in hegtenis geneem.

Nog ‘n verdagte van 38 jaar oud is in hegtenis geneem nadat hy ‘n vermeende rower op 16 Desember doodgesteek het.

Die polisie in Schoemansdal versoek intussen die publiek om na vore te kom met inligting oor ‘n man wie se lyk op Kersdag in die Mnyambazi-stroom by Jeppe’s Reef ontdek is.

Sy lewelose liggaam is in die vroeë oggendure met drie koeëlwonde aan sy kop gevind.

Volgens die polisie is hy nog nie geïdentifiseer nie.

Hy het ‘n swart langbroek, ‘n swart baadjie, swart stewels, ‘n blou mus en een blou handskoen aan sy regterhand gedra.

Sy ouderdom is na raming in die middel 30’s.

Hy word beskryf as van gemiddelde gewig en lengte en medium donker van gelaat.

Kontak speurder sers. Ntombi Mbokane by 082-923-1309 met enige inligting.

Verder sal drie verdagtes na verwagting vandag in die Evander-landdroshof verskyn op aanklagte van moord.

Hulle word in twee afsonderlike voorvalle aangekla weens twee moorde wat oor die Kersfees-langnaweek by Embalenhle gepleeg is.

‘n 18-jarige man is Vrydag na bewering deur sy 15-jarige vriend doodgesteek. Die tiener is aangekeer.

Dinsdag is die liggaam van ‘n 15-jarige in die vroeë oggendure ontdek. Twee verdagtes, van onderskeidelik 20 en 23 jaar oud, is dieselfde dag daarvoor gearresteer.


×