100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Vermeende bedrieër se pad kring vêr uit

Written by on April 28, 2021

‘n Eiendomsagent van Middelburg wat ook met bedrogsake in die Laeveld verbind word, het vandag in die hof verskyn.
Annica van Staden (46) is Maandag deur die Valke in Boksburg gearresteer met behulp van inligting wat van die publiek ontvang is, na die Valke op 20 April gevra het vir hulp om haar op te spoor.
Volgens kapt. Dineo Sekgotodi het sy glo verskeie huise sonder die eienaars se medewete verkoop. Die kopers het haar agentskap, Housing First, betaal, maar nooit hul eiendomme ontvang nie. Sy het die geld glo met ander gedeel.

Van Staden is aanvanklik in August 2019 in Protea Glen, Soweto, aangekeer en op borgtog vrygelaat, maar het nie opgedaag vir haar volgende hofverskyning in November 2020 nie. ‘n Lasbrief is toe uitgereik vir haar inhegtenisname.
Toe sy Maandag aangekeer is, was haar tasse glo gepak asof sy op pad was om weer op die vlug te slaan.
Sekgotodi voer aan dat sy ook met ander bedrogsake (alles beloop sowat R3 miljoen) verbind word in Lydenburg, Piet Retief, Kaapstad en Soweto. Sy sê daar is meer as 36 potensiële getuies teen haar.
“Tydens die ondersoek is vasgestel dat Van Staden verskillende modus operandi gebruik het om slagoffers te bedrieg,” sê Sekgotodi.
In Lydenburg het sy industriële houers verkoop wat sy op sosiale media geadverteer het.
In Middelburg het sy glo HOP-huise asook huise wat deur banke teruggeneem is en private huise verkoop.
In Protea Glen het sy bakstene, sement en lugverkoelers verkoop. Sy het glo ook voertuie verkoop in Piet Retief en Kaapstad.
Die saak is uitgestel tot 5 Mei in die Middelburg-hof. Die Valke verwag ook dat meer arrestasies binnekort gemaak sal word.
In ‘n ander sukses vir die Valke is ‘n provinsiale verkeersbeampte aangekeer vir korrupsie.
Nkosinathi Emmanuel Masina (39), wat in Kabokwani gestasioneer is, is Maandag in die Barberton-hof borgtog toegestaan van R1 000.
Volgens die Valke het hy na bewering in Januarie omkoopgeld van ‘n vragmotorbestuurder tussen Barberton en Badplaas geëis. Die saak sal op 12 Mei in Mbombela hervat.
Volgens die LUR vir gemeenskapsveiligheid, Vusi Shongwe, het korrupsie ‘n negatiewe impak op padveiligheidsinisiatiewe. Hy sê die saak word ook intern ondersoek.
Volgens die departement is verskeie verkeersbeamptes die afgelope ruk gearresteer en afgedank.
Drie eksaminators en ‘n administrateur is verlede week deur die Valke in hegtenis geneem in Graskop, Elukwatini en Carolina. Hulle het glo onregmatig leerling- en bestuurslisensies uitgereik.
Nog ‘n provinsiale beampte wat glo R50 van ‘n bestuurder aanvaar het, is in Ermelo aangekeer.
Ses beamptes by Standerton se lesensie-afdeling is afgedank na bevind is hulle het bedrog transaksies op die eNatis-stelsel gepleeg.



×