100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

NKW: Onder-Sabie gesluit weens Covid, 2 paaie van Sondag toe om damme te sloop

Written by on January 14, 2021

Onder-Sabie-ruskamp in die Krugerwildtuin is vandag gesluit tot verdere kennisgewing, weens ‘n toename in die aantal werknemers wat die koronavirus onder lede het.
Volgens woordvoerder vir die Nasionale Krugerwildtuin (NKW), Ike Phaahla, het 10 werknemers positief getoets.
Hulle is in isolasie en alle Covid-19-protokol word gevolg.
Gaste met besprekings sal gekontak word en die opsie gegee word om óf ‘n ander kamp te gebruik, of hul besoek uit te stel.
Verskeie paaie rondom Letaba- en Shingwedzi-ruskampe sal vanaf eerskomende Sondag tot 6 Februarie vir toeriste gesluit wees.
Die wildtuin is besig om sekere mensgemaakte watergate toe te maak en te sloop, as deel van ‘n rehabilitasieprogram.
Vanaf Sondag sal die Mingerhout-dam, wat sowat 9 km van Letaba af is, gesloop word, sowel as oorblywende dele van die Kanniedood-dam naby Shingwedzi.
Om besoekers se veiligheid te verseker sal paaie in hierdie areas toegemaak word.
In Letaba word die S47-grondpad en die hele S47 vanaf die H1-6 tot die S131 daardeur geraak. In Shingwedzi is dit die S50-grondpad van die S134 af tot by die S143-afdraai in Mooiplaas.
Volgens Phaahla versteur mensgemaakte watergate die ekologie en dat hulle reeds sowat drie jaar besig is met die proses om van dit tot niet te maak.

“Mensgemaakte watergate waar water nie voorheen voorgekom het nie, lei tot verskeie ekologiese probleme, soos gronderosie en die versperring van visse se migrasieroetes.
“Die sloping van sekere van hierdie gate is om die negatiewe gevolge daarvan reg te stel.”
Die sloping word saam met die weermag uitgevoer, en sluit die gebruik van plofstof in. Die rommel sal uit die park verwyder word.
Kamphekke in die NKW maak tans om 05:00 soggens oop en sluit om 18:30. Die wildtuin se ingangshekke open om 06:00 tot 18:00.



×