100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Twee vroue vas oor R3 miljoen se steroïede

Written by on August 6, 2020

Die Valke in Mpumalanga het Woensdag twee vroue in Pretoria-Oos in hegtenis geneem, weens dwelmverwante klagtes.
Hulle is glo in die besit van steroïede ter waarde van ongeveer R3 miljoen betrap.
Die vroue is onderskeidelik 35 en 38 jaar oud. Hulle is by huise in die luukse Silver Lakes- en Willow Acres-landgoed gearresteer.
Volgens kol. Katlego Mogale van die Valke, is die intelligensie-gedrewe deursoek- en beslagleggingsoperasie in samewerking met ander wetstoepassers uitgevoer.

Dit sluit in die Valke in Pretoria, misdaadintelligensie, die digitale forensiese laboratorium, SAPD se forensiese wetenskaplaboratorium, die Suid-Afrikaanse Beheerraad vir Gesondheidsprodukte (Sahpra) en die gespesialiseerde ondersoekeenheid van prioriteitsmisdade (PCSI) in Mpumalanga en Pretoria.

Volgens Mogale vorm dit deel van ‘n dwelmverwante ondersoek wat sy oorsprong in Mpumalanga het.
Die huis in Silver Lakes is eerste deursoek. Daar is glo steroïede gevind wat moontlik op die perseel vervaardig is. Die 38-jarige is hier gearresteer.
Volgende is ‘n stoorplek in Meerluststraat in Equestria deursoek, waar steroïede in verskillende fases van verpakking ontdek is.

Derdens is nog steroïede na bewering by die huis in Willow Acres-landgoed gevind en die 35-jarige is aangekeer.
Die ondersoek duur voort.
Die vroue sal na verwagting binnekort in die hof in Pretoria verskyn.


×