100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Tracy Todd Heine inspireer met ʼn persoonlike boodskap

Written by on April 14, 2020

Presies 22 jaar gelede op Paasmaandag, het Tracy Todd Heine se lewe eensklaps handomkeer verander. Sy en haar eksman en hulle baba was op pad terug van die Oos-Kaap na die Laeveld. Dit was ʼn lang rit en Tracy se babaseuntjie het kriewelrig geraak. Sy het haar sitplekgordel los gemaak om sy doek te ruil. Op daardie oomblik het die Landrover gerol en sy het haar nek gebreek. Die lewe van die jong atletiese vrou, toe 28 jaar oud, sou nooit weer dieselfde wees nie. Dit was die begin van haar pad as kwadrupleeg.

Tracy, ʼn Nelspruiter, het in 2017 haar memoir gepubliseer. Brave Lotus Flower Rides the Dragon is ʼn inspirerende verhaal van hoe sy gekies het om positief ander kant uit te kom, ten spyte van al die uitdagings wat sy moet oorkom as kwadrupleeg. Op Maandagoggend 13 April, op die 22 ste herdenking van hierdie lewensveranderende gebeurtenis, het Tracy ʼn wonderlike inspirerende boodskap op haar Facebook-blad geplaas waarin sy almal aanmoedig om dapper te bly in die inperkingstyd.

Sy skryf onder meer dat sy in die verlede, op die 13e April wanneer die almanak haar weer aan hierdie gebeure herinner, dikwels gehuil het en gewens het dat dinge weer kon terugkeer na hoe dit was voor die ongeluk. Sy sou graag weer wou marathons hardloop en vrylik kon rondloop. Tog het daar mettertyd dankbaarheid en liefde in haar hart gekom en sy het haar omstandighede aanvaar. In haar boodskap skryf sy dat sy op hierdie dag angstig voel saam met almal wat duidelik deur die inperking geraak word. Sy besef mense ervaar vrees, isolering, frustrasie en onsekerheid en dit kan soms oorweldigend wees. Sy sê ook dat sy snags wakker lê en dink aan die mense in die intensiewe eenheid wat teen die koronavirussiekte veg en veral ook aan die gesondheidswerkers wat almal moeg en oorwerk is.

Omdat sy self hierdie dinge beleef het, lê dit haar baie na aan die hart. Tracy sê voorts dat die lewe dalk nooit weer dieselfde vir enigeen van ons gaan wees nie, maar tog is sy positief dat mense hulle moue sal oprol en hard aan die werk sal spring wanneer die krisis rondom die dreigende koronavirus nie meer deel is van ons alledaagse lewe nie. Sy eindig haar boodskap met die volgende inspirerende woorde:

“Al wat ek kan doen is om by julle te pleit om tuis te bly, veilig te bly en gesond te bly. Moet nooit dink dit kan nie met jou gebeur nie. Ek was eens net so arrogant. Help diegene wat jy kan. Wees vol barmhartigheid. Behou jou geloof. Wees positief. Ek bid dat julle almal die krag sal kry om julle deur hierdie moeilike tyd te dra en dat julle die vrede sal vind wat julle verdien. Wees sterk en bly tuis. Tracy.”

Besoek haar Facebook-blad om die volledige boodskap te lees: https://www.facebook.com/tracy.todd1


×