100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Tindlovu-groep skenk vars voorraad aan mense in nood

Written by on April 6, 2020

Wat bloot net ’n reuseverlies sou gewees het, het uiteindelik in ’n positiewe hulpverleningsprojek ontaard. Jo-Anne White, besturende direkteur van die Tindlovu-groep het op Maandagaand 23 Maart, nadat pres. Cyril Ramaphosa die nuus van die nasionale inperking aangekondig het, besef wat die implikasie daarvan is.

Al die restaurante en kioske wat in die Nasionale Krugerpark deur die Tindlovu-groep bestuur word, sowel as die restaurant by Nelspruit Botaniese Tuine, se koelkamers was reeds ten volle gevul met vars voorrade vir die naderende Aprilvakansie. Dit is ʼn baie gewilde tyd vir binnelanders, sowel as oorsese gaste om na die Krugerpark te gaan. Sy het dadelik besef dat alles verlore sou gaan indien daar nie vinnig opgetree word nie. Reeds op Dinsdag 24 Maart is daar begin om van die vars produkte en bederfbare voorraad te gaan haal.

Een voertuig het na Letaba-, Olifants- en Satara-ruskampe gegaan en die ander na Berg-en-Dal-ruskamp, Afsaal-piekniekplek en die Tindlovu-restaurant by die Botaniese Tuine in Nelspruit. Die voorraad is op Woensdag 25 Maart by Children in Distress afgelaai. Hierdie niewinsgewende organisasie verleen kos aan meer as 3000 kinders in die groter Witrivier-area en sluit plekke soos Jerusalem, Kabokweni, Rocky Drift en Phelandaba in. Hierdie is almal weerlose kinders in sogenaamde child-headed-households.

Die bederfbare produkte in Punda Maria-ruskamp is na Mopani-ruskamp geneem. Daar het een van Tindlovu se getroue klante dit opgelaai tesame met die voorraad van Mopani-Shingwidzi en Letaba-ruskampe. Hierdie voorraad is daarna na ʼn niewinsgewende organisasie in Phalaborwa geneem om uit te deel aan die wat dit nodig het.

White sê alhoewel die besluit baie negatiewe ekonomiese gevolge gaan hê, want dit is meer as R100 000 se voorraad, was daar in haar oë geen ander keuse nie. “Pres. Ramaphosa se aankondiging van die inperking het my baie emosioneel gemaak. Ons het meer as 350 personeel wat vir ons werk en ons gaan vir die volgende 21 dae geen inkomste hê nie.

Die laaste paar maande se wins was reeds 50% minder as verlede jaar. Ek het op die Facebookblad van Krugerpark van die skenkings vertel en ek is oorweldig met die wonderlike positiewe reaksie op my plasing. Ek het daar en dan geweet dat deur die genade sal ons hierdie oorkom. Dan het ek ook wonderlike personeel wat my al die pad bystaan. Ons is almal baie positief en spreek lewe.

Toe ek later by Martinah van Children in Distress gehoor het wat hierdie skenkings vir almal wat dit ontvang het beteken het, het dit alles die moeite werd gemaak. Ek glo dit was so bestem deur ’n Hoër hand.”


×