100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Thaba Chweu-proteste kring uit na Sabie

Written by on March 10, 2021

Betogers het vanoggend ook in Sabie teen die Thaba Chweu-munisipaliteit (TCM) begin betoog.
Geweldadige betogings woed al sedert Donderdag teen die plaaslike owerheid in Lydenburg en Mashishing.
Volgens berigte is Sabie bereikbaar. ‘n Optog na die munisipale kantore is onderweg.
Sekerheidsmaatskappye waarsku dat die situasie rondom Lydenburg nie gestabiliseer is nie. Die R37 en R36 word die heeltyd oop- en toegemaak. Mense word aangeraai om die dorp liefs te vermy.
Die burgemeester het vanoggend glo nie opgedaag om die betogers toe te spreek nie.
Groot skade is in Lydenburg en Mashishing aangerig. Onder meer is ‘n Usave-winkel gister in Mashishing afgebrand.
Provinsiale polisiewoordvoerder brig. Leonard Hlathi sê sewe van die 13 mense wat Maandag gearresteer is vir openbare geweld, is vrygelaat. Die ander ses moet op 15 Maart weer in die hof verskyn.

Buitelandse burgers se winkels is ook geplunder. Munisipale kantore en ‘n gebou wat aan TCM behoort, maar deur die polisie gebruik word, is aan die brand gesteek. ‘n Kitsbank is ook beskadig.
Hlathi voeg by dat die ergste skade aan die padoppervlak aangerig word deur brandende bande.
Volgens Moeti Mmusi, die woordvoerder van die departement van gemeenskapsveiligheid, monitor die polisie en verkeersbeamptes die situasie in Sabie. Hy het ‘n beroep gedoen op gemeenskappe om binne die wet te betoog.
“Hulle is binne hul reg om te protesteer, maar dit moet so gedoen word dat ander mense steeds die paaie kan gebruik,” sê hy.
“Die sluiting van paaie het ernstige ekonomiese gevolge. Dit raak selfs belangrike dienste soos ambulanse, so ons veroordeel dit ten sterkste.”


×