100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Tabakmaatskappye sê die regering die stryd aan

Written by on May 5, 2020

Vir rokers wat gefrustreerd voel met die regering se volgehoue verbod op die koop en verkoop van tabakprodukte in Vlak 4 van die inperking, is daar ʼn brokkie goeie nuus. Die Fair Trade Independent Tobacco Association (Fita) het Maandag ’n aansoek by die hooggeregshof in Pretoria ingedien om te vra dat die verbod op die verkoop van sigarette opgehef word. Fita is ʼn onafhanklike tabakvereniging wat hom beywer vir regverdige handel in die verkope van tabakprodukte. Fita het aangedui dat hulle die aansoek namens alle Suid-Afrikaners bring en pres. Cyril Ramaphosa en die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, word gelys as respondente in die aansoek.

Die organisasie vra in die hofaansoek dat sigarette sowel as tabakprodukte as noodsaaklike goedere ingesluit moet word in die lys van produkte wat tans wettiglik verkoop mag word. Hulle het ook aangedui dat hulle voor Vrydag ʼn antwoord van die regering wil hê. Fita het aangedui dat hulle dit uiters vreemd vind dat pres. Ramaphosa in sy toespraak op 23 April pertinent gesê het dat die verbod op die koop en verkoop van sigarette vanaf 1 Mei opgehef sal word maar op Woensdag 29 April het Dlamini-Zuma gesê dat die verbod steeds sal geld. Pres. Ramaphosa het op Maandag in sy weeklikse brief die besluit van Dlamini-Zuma verdedig en gesê dat dit ʼn gesamentlike besluit is wat na oorlegpleging met die nasionale koronabevelsraad geneem is.

Fita hou egter vol dat die verbod nooit in die oorspronklike rampregulasies wat in Maart gepubliseer is of in latere bygewerkte regulasies verskyn nie. Bloot die verbod op alkohol is in die Staatskoerant gepubliseer. Voorts sê Fita die verduideliking vir hierdie besluit wat die regering gegee het, is nie aanvaarbaar nie. Die regering se standpunt is dat die verkoop van sigarette tot die beweging van mense sal lei en dat dit ook skadelik vir jou gesondheid is en daarom behoort dit verbied te word in die geveg teen Covid-19. “Geeneen van die twee is rasioneel regverdigbaar as dit kom in die stryd teen Covid-19 nie,” sê Fita in hulle verklaring.

Die volgende maatskappye vorm deel van Fita: Afroberg Tabacco Manufacturing (Pty) Ltd; Best Tobacco Company (Pty) Ltd; Amalgamated Tobacco Manufacturing (Pty) Ltd; Carnilinx (Pty) Ltd; Gold Leaf Tobacco Corporation (Pty) Ltd; Protobac (Pty) Ltd; Folha Tobacco Manufacturers (Pty) Ltd en Home of Cut Rag CC.


×