100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Staat van inperking word met twee weke verleng

Written by on April 10, 2020

Vir eers is die aftel van die laaste sewe dae tot die beëindiging van die staat van landwye inperking tot ’n halt geroep. Suid-Afrikaners sal nog moet wag tot 30 April voordat die streng inperkingsmaatreëls verslap sal word. So het pres. Cyril Ramaphosa gisteraand in ʼn televisietoespraak gesê. Ramaphosa het Suid-Afrikaners geloof vir die manier waarop ʼn groot deel van die landsgenote gehoor gegee het aan die inperkingsmaatreëls. Hy het gesê dat volgens wetenskaplikes het die daaglikse getal mense wat met die koronavirus geïnfekteer word afgeneem van 42% na ʼn gemiddelde daaglikse 4%. Met die aanbreek van die nasionale inperking het die getal geïnfekteerdes van 1170 mense gestyg tot by 1934 op Donderdag 9 April. Dit het hom genoop om die moeilike besluit te neem om die tydperk van inperking met nog twee weke te verleng.
“Indien ons die inperking te vroeg of te vinnig beëindig, bestaan die gevaar van ʼn massiewe en onbeheerbare oplewing van die siekte. Dan loop ons die gevaar om alles wat ons gewen het in die afgelope twee weke nietig te maak en al die groot opofferings wat ons almal gemaak het sal dan waardeloos wees. Mede Suid-Afrikaners, vanaand staan ek voor julle om julle te vra om nog ʼn rukkie langer geduldig te bly,” het Ramaphosa gesê
Hy het ook na die kommerwekkende wêreldwye statistiek verwys. Op 26 Maart het die aantal mense wat met die koronavirus besmet is op 243 000 gestaan. Op Donderdag 9 April het die getal gestyg tot by ʼn onrusbarende 1,5 miljoen mense. Die dodetal wêreldwyd staan tans op 95 753.
Hy het aangekondig dat die meeste inperkingsmaatreëls steeds sal geld, maar dat daar wel op sekere gebiede ʼn effense verslapping sal wees. Dit sal gedoen word om die ekonomie weer geleidelik aan die gang te kry. Hierdie veranderings sal mettertyd aangekondig word.
In solidariteit met die gewone burgers wat op ekonomiese gebied swaar deur die inperking geraak word, het Ramaphosa aangekondig dat die salarisse van die kabinet en adjunkministers en provinsiale premiers dadelik met 33% gesny sal word. Dit sluit sy salaris in. Die geld sal na die Solidariteitsfonds gaan wat op verskeie gebiede en velde help om verligting te bring en hulp te verleen.
“Hierdie is ʼn moeilike tyd vir almal van ons. Tog is die boodskap van Paasfees een wat ons vanaand in ons harte moet dra. Dit is ʼn boodskap van hoop, van herstel en wedergeboorte. As ons hierdie verenig hierdie pad stap, as ons almal hard werk om hierdie pandemie te beveg, sal ons sterk bly en saam die ding oplos. Baie word van julle gevra, veel meer as wat ooit gevra moes word. Maar ons weet dit is nou ʼn saak van oorlewing en ons durf nie misluk nie. Ons sal herstel. Ons sal dit oorwin. Mag God Suid-Afrika seën en haar mense beskerm,” het hy sy toespraak afgesluit.
Lees Pres. Cyril Ramaphosa se volledige toespraak hier:
https://ewn.co.za/2020/04/09/full-speech-president-ramaphosa-s-covid-19-update


×