100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Skole bly toe na skoonmaak ontwrig word

Written by on June 11, 2020

Sowat 95% van die skole in die provinsie is weer operasioneel.
Skole het Maandag vir gr. 7 en gr. 12-leeringe heropen. Volgens Jasper Zwane, woordvoerder van die onderwysdepartement in Mpumalanga, is die ontsmetting van skole in Lekazi ontwrig. Sogenaamde sakeorganisasies het glo die skoonmaak ontwrig en skoolhoofde en bestuurspanne selfs gedreig.
Sewe-en-twintig skole in KaNyamazane, Pienaar and Malekutu is daardeur geraak en kon nog nie heropen nie.
Volgens Zwane is dit intussen aangespreek en die skoonmaakspanne is terug op hul pos.
Hoewel hulle nog in gesprek is met die beheerliggame van skole in Pienaar, hoop hulle dat die ander skole teen Maandag sal kan heropen.
Lowveld High is ook gesluit nadat twee onderwysers positief vir Covid-19 getoets het. Die departement hoop egter dat dié skool ook Maandag weer leerlinge terug sal kan verwelkom.

“Ons is tevrede,” sê Zwane. “Daar is hier en daar uitdagings, maar die algehele prentjie is belowend.”
Hy voeg by dat meer leerders deur die week teruggekeer het skool toe. Teen Maandag was slegs sowat 75% van die gr.7’s en gr. 12’s terug. Teen Donderdag was dit al 85%.
Ander uitdagings is water en sanitasie by sommige skole wat weens tekorte nie kon heropen nie. Watertenks wat voorsien is, is op plekke gesteel.
Zwane noem verder dat daar tekorte aan maskers is waar leerlinge elk slegs een ontvang het, eerder as die vereiste twee, of waar maskers wat voorsien is nie aan leerlinge en onderwysers uitgedeel is nie.
Die departement sê hulle werk saam met die distrikte om hierdie uitdagings aan te spreek.
Intussen gaan die radioklasse en telefoniese tutor-dienste voort.
Enige leerling kan 087-223-3033 skakel (jy sal teruggebel word sodat jy nie vir die oproep betaal nie).
Kies dan ‘n vak en ‘n onderwyser sal jou vrae beantwoord.
Voorvalle wat leerlinge of onderwysers in gevaar stel kan ook aan die departement gerapporteer word op hul tolvrye nommer (080-020-3116) of per e-pos na [email protected].
Daar is tans 18 aktiewe Covid-19-gevalle in Mbombela, vier in Nkomazi-area, vyf in Thaba Chweu en geen in Bosbokrand nie.
In die hele Mpumalanga is daar 89 aktiewe gevalle. Een sterfte is tot op hede aangemeld. Meer as 26 000 toetse vir die virus is al uitgevoer.


×