100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

SAPD vra groter samewerking teen onwettige mynbou

Written by on June 6, 2024

Die polisie in Mpumalanga verskerp hul pogings om onwettige mynboubedrywighede in die provinsie hok te slaan.

Die Taktiese Operasionele Sentrum het gister in Mbombela met verskeie rolspelers vergader om nouer samewerking met die polisie te bewerkstellig.

Verskeie regeringsdepartemente en private myne is daarby betrek.

Dit sluit in die departemente van Binnelandse Sake, Landelike Ontwikkeling, en Minerale Bronne sowel as die Nasionale Vervolgingsgesag, Ehlanzeni Distrik Rampbestuur, York Timbers en SSG Sekuriteit van Barberton Mines.

Dit volg op nog ‘n deurbraak wat gisteroggend in Simile naby Sabie gemaak is, toe polisiebeamptes as deel van Operasie Vala Umgodi ‘n laboratorium agter ‘n informele nedersetting langs ‘n begraafplaas ontdek het.

Dit word na vermoede gebruik om goud en silwer chemies te prosesseer. Die polisie is besorg oor die gevare wat dit inhou, gegewe die gevaarlike chemikalieë waartoe selfs kinders maklik toegang het en dat die afval water daarvan in ‘n nabygeleë rivier in dreineer.

Die polisie vra dat gemeenskappe sulke bedrywighede aan hulle rapporteer, gegewe die sekondêre gevare wat dit inhou.

Die provinsiale polisiekommissaris, luit. gen. Semakaleng Manamela, sê alle rolspelers moet saamwerk om onwettige mynbou hok te slaan, ook vanweë die misdade soos moord en roof wat dikwels daarmee gepaard gaan.

Sien ook: Vyf verdagtes verskyn in Sabie-hof weens onwettige mynbou


×