100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Pumas soek ‘n wen teen die Griekwas

Written by on October 16, 2020

Die Phakisa Pumas pak Saterdag die Tafel Lager Griekwas in hul tweede wedstryd van die Vodacom Super Rugby Unlocked-reeks.
Beide spanne benodig ‘n wen, nadat hulle verlede naweek nederlae gely het.
Die Bulle het die Griekwas met 30-23 getroef. Die Pumas het met 53-31 teen die Cheetahs verloor.
Die pienk truie was teen rustyd 41-3 agter, nadat hulle ses drieë afgestaan het. Hulle kon egter in die tweede helfte terugkom en het 26 punte teenoor die tuisspan se 12 punte aangeteken.
Die Pumas-afrigter Jimmy Stonehouse sê dit was te laat.

“Die eerste helfte was nie wat ons wil doen nie, maar dit is wat jy kry met sulke jong, onervare spelers. Ek hoop maar ons leer uit die pak slae.”
Hy het verskeie veranderinge aan môre se span aangebring. Ryan Nell is tydens die wedstryd beseer en sal uit wees vir die res van die seisoen.
Dit het Stonehouse genoodsaak om ‘n paar skuiwe te maak. “Ek hoop die jong ouens steek hul hande op,” sê hy.
Pieter Jansen van Vuren vervang vir Nell as kaptein. Dié voormalige Griekwa-kaptein maak Saterdag sy debuut vir die Pumas.
Met Nell se besering, asook die van Le Roux Roets en Marné Coetzee, makeer die pienkes drie ervare spelers.
Stonehouse hoop Jansen van Vuren se teenwoordigheid sal daarmee help. “Ek dink hy sal homself wil bewys. Hy het die ondervinding en die ervaring om die ouens bymekaar en kalm te hou.”
Dit is vir hulle belangrik om vyf punte uit die wedstryd te neem.
“Uit die aard van die saak speel jy die heeltyd teen Springbokke. Die kompetisie word nie makliker nie.”
Die enigste spelers wat die naweek weer begin is Devon Williams op heelagter, Wayne van der Bank op senter, Neil Maritz op vleuel, Eddie Fouche op losskakel, Ginter Smuts op skrumskakel, Willie Engelbrecht op flank en die stutte Ruan Kramer en Morgan Naude.
Die volledige span is Williams, Taljaard, Erich Cronje, Van der Bank, Maritz, Fouche, Smuts, Jeandré Rudolph, Engelbrecht, Francois Kleinhans, Jansen van Vuren, Darrien Landsburg, Kramer, Simon Westraadt en Naude.
Die plaasvervangers is HP van Schoor, Liam Hendricks, Heath Backhouse, Phumzile Maqondwana, Dian Badenhorst, Neil Marais, Ali Mgijima en Dewald Maritz.
Die Griekwas het geen veranderinge aan hul beginspan van verlede naweek gemaak nie. Die span is Anthony Volmink, Daniel Kasende, Harlon Klaasen, André Swarts, James Verity-Amm, George Whitehead (kaptein), Zak Burger, Niell Jordaan, Stefan Willemse, Carl Els, Victor Sekekete, Ian Groenewald, John-Roy Jenkinson, HJ Luus en Mox Mxoli.
Die plaasvervangings is Alandre van Rooyen, Andrew Beerwinkel, Madot Mabokela, Adre Smith, Zandre Jordaan, Gideon van der Merwe, Ashon Davids, Berton Klaasen, Mzwanele Zito, Ewan Coetzee en Bjorn Basson.
Die wedstryd skop om 16:30 op Tafel Lager Park in Kimberley af.


×