100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Plaaslike ondernemings verwelkom vlak 2 van inperking

Written by on August 17, 2020

President Cyril Ramaphosa se aankondiging Saterdag, dat drankverkope en interprovinsiale reis weer vanaf môre toegelaat word, is met ope arms deur plaaslike ondernemings verwelkom.
Tracey Golitz van Da Loose Mongoose in Witrivier, is veral dankbaar dat restaurante weer alkohol aan klante mag bedien en dat kroeë vir die eerste keer sedert Maart weer handel mag dryf.
Restaurante sukkel al geruime tyd om kop bo water te hou, omdat drankverkope so ‘n groot deel van hul omset uitmaak.
Volgens Golitz sal watter beperkings ookal ingestel word, egter moeilik wees om af te dwing.

“Ons weet nie of ons slegs op sekere dae alkohol sal mag verkoop nie, ons moet maar wag en sien.
“Enige verslapping in die regulasies wat meer dinge moontlik maak, maak my hoopvol,” voeg Golitz by.
Marthinus de Bruin van CityBug is ook verheug dat mense weer tussen provinsies mag reis.
Inperking het hulle erg negatief geraak, omdat mense gesukkel het om permitte te bekom. Dit is nou nie meer nodig nie.
Boonop mag mense vanaf Dinsdag in klein groepe saam met hul families kuier.
Volgens De Bruin sien hulle reeds ‘n groot toename in besprekings deur mense wat na hul families verlang.
CityBug hou steeds by streng veiligheidsmaatreëls om die verspreiding van Covid-19 te beperk.
Hul busse mag onder meer slegs 70% vol wees. Almal moet natuurlik te alle tye gesigmaskers dra.

Tabakprodukte mag volgens Ramaphosa ook weer wettig verkoop word.
Internasionale reis bly steeds verbode. Toeskouers word ook nie onder vlak 2 by sportgeleenthede toegelaat nie. Die aandklokreël bly ook tussen 22:00 en 04:00 in plek.
Volgens Ramaphosa dink hulle dat Covid-19-gevalle in die meeste provinsies sy piek bereik het. Hy het gewaarsku dat mense steeds versigtig moet wees, om oordrag te verhoed.
Ministers sal na verwagting vanaf 14:00 ‘n inligtingsessie aanbied, waartydens meer besonderhede oor vlak 2 inperkingsregulasies gedeel sal word.
Dit sal deur dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering, gelei word.


×