100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Plaaslike gr. 12’s meld aan by skool

Written by on June 9, 2020

Gereed, gemasker en gewapen met saniteerder het die meeste van die Laeveld se matrikulante Maandagoggend dít wat oor is van hul finale skooljaar, hervat.

Na maande van tuisonderrig en baie onsekerheid kon die land se gr. 7- en gr. 12-leerlinge uiteindelik weer hul plekke op die skoolbanke inneem nadat die skooljaar einde Maart wreed deur die Covid-19-pandemie ontwrig is.

Lowveld High kon nie heropen nadat twee leerkragte verlede week positief vir Covid-19 getoets het.

Al die onderwysers is intussen getoets en daar word op hul Covid-19 uitslae gewag voor die skool sal kan heropen.

Buiten ‘n paar tandekryprobleme het dinge in die area se ander grootste skole seepglad verloop. Die meeste leerlinge het ook skool bygewoon.

Hoewel plaaslike skole deurgaans hard gewerk het om te verseker die kinders ontvang afstandonderrig, was almal opgewonde om weer na iets soos normaal terug te keer.

By Hoërskool Bergvlam het die Vlammie-onderwysers hul gr. 12-leerders met ‘n erewag terug verwelkom.

 

 

 

 

 

 

 

 

Die leerlinge is ook deur onderwysers by die hek ontvang en elkeen se temperatuur is geneem en hul hande ontsmet.

Deon Visser, die hoof, het die ouers en leerlinge bedank dat alles so vlot verloop het op die eerste dag.

“Ons het redelik baie vroeg en vinnig met die dag begin sodat ons so normaal as moontlik in hierdie nuwe tye die kinders kon laat terugkom.”

Hoërskool Nelspruit (NHS) het verlede week reeds begin met opleiding oor Covid-19 om die leerlinge en onderwysers gereed te maak vir die heropening, en was slaggereed.

Die koshuis het ook heropen.

Die matrieks se ouers het ook Maandag vir die eerste keer in die skool se geskiedenis via Zoom ‘n ouervergadering aanlyn bygewoon.

Om al die ouers te akkommodeer is twee vergaderings aangebied om hulle in te lig oor die skool se veiligheidsvoorbereidings.

Volgens Johan Hattingh, die hoof, sal hierdie metode van kommunikasie definitief in die toekoms aangewend word, ook vir die ander graadgroepe se ouers.

Hoërskool Rob Ferreira sê hulle kon nie vir ‘n beter eerste dag gevra het nie.

Dawie Oberholzer, die hoof, hoop dat die gr. 11-leerders so gou as volgende week sal kan terugkeer skool toe.

Voorlopig gaan die laer graadgroepe eers in Julie en Augustus terug skool toe.

Rob Ferreira het by die onderwysdepartement aansoek gedoen vir toestemming om die laer grade te ontvang.

Hulle neem ouers se kwellinge oor hul kinders se veiligheid ter harte, maar moedig nie afstandonderrig aan nie.

“Kontakonderrig bly die beste,” sê Oberholzer.

Hulle beplan om hul leerders volgens hul vanne in groepe te verdeel wanneer die jonger graadgroepe terugkeer.

Elke groep sal dan fisiese skooltyd met afstandonderrig afwissel om te verseker dat almal by die skool maklik ‘n veilige afstand van mekaar kan handhaaf.

“Dit is in ons geval die mees praktiese manier om die skool opgedeel te kry in meer groepe wat klein genoeg is in die klas sodat ons sosiale afstand kan handhaaf,” verduidelik Oberholzer.

Bronne: Dawie Oberholzer (Robs), Janine Cronje (NHS), Mandy Barnard en Deon Visser (Bergvlam), Natacha Bouwer (Lowveld High).


×