100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Phakisa Pumas verwag Cheetahs wat iets wil bewys in eerste wedstryd

Written by on October 9, 2020

Die voormalige vaskopstut van die Griekwas, Ruan Kramer, sal Saterdag sy buiging vir die Phakisa Pumas teen die Toyota Vrystaat Cheetahs in die plek van die beseerde Marné Coetzee maak.
Coetzee het verlede naweek in die Pumas se opwarmingswedstryd teen die Xerox Goue Leeus sy arm gebreek en sal vir die res van die Vodacom Super Rugby Unlocked-seisoen buite aksie wees.
Nóg twee nuwe gesigte in die voorry is die flankpaar Daniel Maartens en Kwanda Dimaza.
Skrumskakel Eddie Fouché maak óók sy eerste verskyning in die pienk trui.
Die senter, Ryan Nell, is as kaptein van die span aangewys.
Dit behoort ‘n opwindende wedstryd te wees aangesien die Cheetahs onlangs hul Pro14-status verloor het.
Pumas-afrigter, Jimmy Stonehouse, sê dit is ‘n ongelooflike voorreg om terug op die veld te wees na die grendeltydperk.
“Dit gaan ‘n moeilike een wees sonder die toeskouers, maar ons sien baie uit daarna.”
Hy voeg by dat Coetzee se besering ‘n ongelooflike impak op die samestelling van die span het.
“Hy is ons nommer 1 vasskopstut, een van die belangrikste persone in die skrum. Dit het ook gewys verlede naweek, nadat ons 5-0 voor was en toe hy sy arm breek skrúm hulle vir ons.
“Dit het ook ‘n geweldige impak op jou vaste fasette. Dat dit my so ‘n bietjie op my senuwees laat, is verseker so. Maar dit gee ook weer ‘n geleentheid vir die ander ouens om te wys waartoe hulle in staat is.”
Stonehouse verwag egter ‘n moeilike wedstryd.

“Ek dink die Cheetahs het die beste span wat hulle in die laaste vier jaar gehad het. Hierdie was ook die eerste keer wat hulle regtig goed gevaar het in die Pro-14.
“Weens die feit dat hulle net uitgeskop is, sal hulle regtig wil wys waartoe hulle in staat is en ongelukkig is ons die eerste span met wie hulle te doen kry.”
Hy voeg by dat dit tog soms skeef kan loop wanneer ‘n span met te veel emosie in ‘n wedstryd ingaan.
“Ek hoop dit werk vir ons positief uit. Ons het nie regtig sterre nie. Ons hoop om balbesit te hou en hoop dit gaan na ons kant toe.”
Die wedstryd word Saterdag om 16:30 op SuperSport 211 uitgesaai.

Die volledige span is: Morgan Naude, Marko Janse van Rensburg, Ruan Kramer, Le Roux Roets, Cameron Lindsay, Daniel Maartens, Kwanda Dimaza, Willie Engelbrecht, Ginter Smuts, Eddie Fouche, Neil Maritz, Ryan Nel, Wayne van der Bank, Luther Obi, Devon Williams, Simon Westraadt, Liam Hendricks, Dewald Maritz, Darrien Landsburg, Jeandre Rudolph, Dian Badenhorst, Niel Marais en Ruwellyn Isbell.

Foto: Hennie Homann


×