100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Pediatric Care vertrek op motorfietsrit om fondse in te samel

Written by on September 24, 2020

Pediatric Care Africa het vanoggend Erfenisdag afgeskop deur vanaf Witrivier op ‘n fondsinsameling te vertrek.
Die groep motorfietsryers uit die Laeveld beplan om oor vier dae ‘n raps meer as 1 000 kilometer af te lê om geld in te samel vir operasies vir minder bevoorregte kinders.
Hulle reis na Mashishing (Lydenburg), Middelburg, Dullstroom, Hartbeespoortdam, Pretoria, Magaliesburg, Krugersdorp, Randfontein en Alberton. Hulle sal Sondag terug in Witrivier arriveer.


Pediatric Care Africa se stigter, dr. André Hattingh, sê hulle het tydens inperking al hul fondse gebruik om kospakkies aan minder bevoorregte gesinne in Mpumalanga te voorsien.
“Ons het baie borge gehad, maar hulle het hoofsaaklik nie-bederfbare produkte voorsien. Ons het die res self gekoop. Dit het baie geld gekos. Ons geld is nou op.”
Boonop kon hulle volgens Hattingh sedert die grendeltydperk ingestel is, geen operasies uitvoer nie. Hul uiteindelike mikpunt is ‘n duisend operasies vir ‘n duisend kinders.

“Ons het einde verlede jaar, toe ons hiermee begin het, 20 operasies gedoen. Sedert inperking, niks. Ons moet ten minste ses doen voor die einde van die jaar.”
Die groep motorfietsryers het in Februarie sowat 6 000 kilometer afgelê rondom die land.
“Ons het toe die groot stede misgery, so ons fokus hierdie naweek op hulle,” verduidelik Hattingh.
Borge is genooi om elke kilometer wat hulle aflê te borg – hetsy met R1, R2, of R5. Borge kan ook kontantskenkings maak.

Die motofietsryers het om ongeveer 09:00 vanaf White River Square vertrek. ‘n Feestelike atmosfeer het geheers, met kosstalletjies en die werknemers van Pick n Pay Witrivier wat die Jerusalema-dansuitdaging gedoen het.
Die groep se eerste stop is Soli-Deo-Gloria in Lydenburg waar hulle ‘n vrag kospakkies sal aflaai.
Van daar doen hulle oor die naweek aan by verskeie dorpe, tot in Gauteng, waar meer motofietsryers by die groep aan sal sluit.
Hattingh voeg by dat dit sowat R59 000 kos om een operasie uit te voer, en dit is sonder addisionele koste soos hospitalisasie en alles wat daarmee gepaard gaan.
Om betrokke te raak, kontak Pediatric Care Africa by [email protected].

×