100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Ons Stad Mbombela vir skoner, veiliger dorpe

Written by on February 24, 2022

Dit is tyd vir inwoners om self hul dorpe in stand te hou. Sandra Jacobs, president van die Kruger-Laeveld-sakekamer (KLCBT), sê die dae is verby wat mense kon skouers optrek omdat hulle plaaslike owerhede betaal vir dienste om gelewer te word en “ingryping” deur gemeenskappe neem noodgedwonge landwyd toe.
“Munisipale dienste het ons gefaal, en dit gaan nie in die afsienbare toekoms herstel nie,” sê Jacobs. “Inwoners moet aksie neem, verantwoordelikheid neem vir hul eie dorpe.”
Dit is waarom Ons Stad Mbombela (Our City of Mbombela) vandag amptelik aan die publiek bekendgestel is. Dit is ‘n ondersteuningsbeweging met die doel om die hele munisipale area skoner, mooier en veiliger te maak.
Plaaslike organisasies wat juis dit doen bestaan reeds. Daar is verskeie belastingbetalersverenigings in verskeie dorpe, die Power of 8 000 in Witrivier, We Care 4 Nelspruit in Mbombela, om nie eens al die individue en informele groepe te noem wat hulself beywer om onder meer slaggate te herstel en bushaltes te verfraai nie.
Ons Stad Mbombela fasiliteer ondersteuning – ook finansieel deur skenkings – aan sakeondernemings, die publiek, organisasies, “basies enige mens of groepering wat bemoeid wil wees daarmee om die stad skoner, veiliger, mooier en vriendeliker te maak,” verduidelik sy.
Dit bied skenkers ook ‘n veilige hawe omdat KLCBT self verantwoording doen oor hoe skenkings bestee word. Die komitee bestaan uit mense wat saamstem dat hulle self hul omgewing leefbaar moet hou.
“Ons wil mense bemagtig om te kan doen wat hulle graag wil doen en hulle entoesiasties maak. Ons gaan niemand voorsê of inmeng met hoe hulle befondsing kry nie. Ons is hier om hulle te sterk in hul werk.”
Luister hier waar Jacobs verduidelik presies hoe dit werk.

Die spreker by die bekendstelling is juis Barend la Grange, wat instrumenteel was daarin om Kroonstad se inwoners te help om hul dorp te laat herleef.
“Hy kry mense, wat eers glad nie met mekaar wou praat nie, om mekaar te ondersteun en saam met mekaar te werk. Kroonstad se gedaanteverwisseling (oor vyf jaar) was weens die sakegemeenskap wat gesê het ons gaan nie meer wag dat die munisipaliteit die dorp skoon en netjies en mooi maak nie – ons gaan dit self doen.”
Die pluspunte is dat ‘n skoner, mooier en meer netjiese dorp beleggings en mense wat daar wil woon, lok, wat sy eie ekonomiese impak het. Dit het natuurlik ook ‘n positiewe uitwerking op inwoners se gemoed.
Daar is ook samewerking van die owerhede. We Care 4 Nelspruit het reeds begin om parkies skoon te maak in Nelspruit, en Mbombela se parke-afdeling werk reeds saam.
“Daar is ‘n gewilligheid om ons te help. Binnekort spog ons met die mooiste dorp in die land. Ek glo ons sal die munisipaliteit kry om in te koop en saam te werk om Mbombela tot sy eertydse glorie te herstel,” sluit Jacobs af.


×