100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Ondersteun doekinsameling vir kinders met gestremdhede

Written by on October 11, 2021

Die Nasionale Raad vir Mense met Gestremdhede het ‘n doekinsameling begin vir kinders met gestremdhede.
Direkteur Therina Wentzel sê vir kinders met gestremdhede wat doeke dra is dit ‘n groot uitgawe. “Almal wat al ‘n baba gehad het, weet hoe duur dit is, en hulle moet dit dikwels langer gebruik as babas en dit word duurder soos hulle groter word,” verduidelik sy.
Daarom het hulle aan die begin van die maand die “Durf en deernis”-projek geloods wat tot Desember aanhou. Dit sluit in ‘n virtuele “doekdraf” in die eerste twee weke van November.
Vir die virtuele doekdraf is die inskrywingsfooi R130 – want dit is wat ‘n pak doeke kos.

Wentzel sê in die verlede was die doekdraf ‘n pretloop van 5 km, maar hulle het besluit om dit vanjaar aan te pas weens die Covid-pandemie. Deelnemers kan dus enigiets doen wat hulle wil – hetsy dit draf, stap, fietsry of rolstoelry is. Sommige groepe het selfs aangedui hulle beplan om vir vyf ure lank joga te doen.
“Dit gaan meer oor die hart daarvan,” sê sy. Mense kan verder ook bloot fondse of pakke doeke skenk – enige doeke kan ook by Radio Laeveld 100.5FM se ateljee in Sonpark afgelaai word.
Sy voeg by dat alle fondse aangewend word om doeke te verskaf aan die gesinne wat dit benodig: sommige van die kinders woon by hul ouers, ander in kinderhuise of in sorgsentrums.
“Mense met gestremdhede het dieselfde uitdagings as ons, maar ook ‘n duisend meer,” sê Wentzel.
Om meer uit te vind of betrokke te raak, besoek nappyrun.co.za vir meer besonderhede.


×