100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Ondersoek na Covid-19-verskaffers steeds nie afgehandel nie

Written by on November 12, 2020

Die Mpumalanga-regering se ondersoek na vermeende ongeruimdhede in Covid-19-aankope is na 12 weke steeds nie afgehandel nie.
Premier Refilwe Mtshweni-Tsipane het Woensdag bevestig dat sy nog net ‘n tussentydse verslag daaroor van die onafhanklike ondersoekspan ontvang het.
Sy het op 19 Augustus aangekondig dat onreëlmatighede geïdentifiseer is in vyf provinsiale entiteite se keuse van verskaffers vir beskermende kleredrag.
Dit is die departemente van sport en samewerkende regering, die tesourie, Mpumalanga-toerisme-en-parkeraad (MTPA) en die Mpumalanga-agentskap vir ekonomiese groei (Mega).
‘n Beperkte aantal verskaffers sou glo voordeel getrek het uit die kontrakte
Dit is ook teenstrydig met haar administrasie se beleid dat klein ondernemings wat veral vroue, jeugdiges en mense met gestremdhede ondersteun, bevoordeel moet word.
Mtshweni-Tsipane het destyds aangekondig dat dit ongeveer twee weke sou duur. Intussen was daar ‘n proses om die ondersoekspan aan te stel. Haar kabinet het ook vir ‘n paar weke nie vergader nie, omdat verskeie lede daarvan, insluitende die premier, Covid-19 onder lede gehad het.
Dit is egter onduidelik hoekom die ondersoek steeds sloer of wanneer dit afgehandel behoort te wees.
Waar ‘n oortreding bewys kan word, sal dit na die spesiale ondersoekeenheid (SOE) verwys word.

“Ons kan bevestig dat ons die tussentydse verslag ontvang het,” sê sy. “Ons bestudeer dit nog. Wanneer dit gefinaliseer is, sal ons dit met die publiek deel. Ek kan nie nou daarop kommentaar lewer nie.”
Sy het ook bevestig dat die SOE besig is met verskeie ondersoeke in die provinsie, en dat Bosbokrand, eMalahleni (Witbank) en Thembisile Hani plaaslike munisipaliteite in terme van artikel 16 van die Wet op Munisipale Stelsels ondersoek word.
Die premier se kantoor het destyds aangekondig dat die provinsiale departement van samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede sedert inperking aan die begin van die finansiële jaar begin het, R6 388 435 aan Covid-19-voorkoming spandeer het.
Die departement van kultuur, sport en ontspanning het R4 790 811 uitgegee, die MTPA R622 407, Mega R582 144 en die tesourie R555 813.


×