Nog borg geweier vir beskuldigdes in polisiebeampte se moord
Written by Mireille on June 26, 2025
Drie van die 10 mense wat daarvan aangekla word dat hulle die bevelvoerder van die Ermelo-voertuigondersoekeenheid, luit. kol. Piet Pretorius, in Januarie vermoor het, is gister borgtog geweier.
Hulle word aangekla van moord, sameswering om moord te pleeg, besit van ‘n ongelisensieerde aanvalsgeweer met ammunisie en regsverydeling.
Vyf van hul medebeskuldigdes het hul borgtogaansoeke laat vaar en ‘n vrou is vroeër vanjaar borgtog geweier.
Phepheni Duba is op borgtog van R10 000 vrygelaat.
Al 10 verdagtes sal na verwagting op 14 Augustus in die Ermelo-distrikshof verskyn.
Intussen het die VF+ ’n dringende skrywe by die provinsiale wetgewer ingedien waarin ernstige kommer uitgespreek word oor die toenemende aantal gewelddadige aanvalle en moorde op polisielede in Mpumalanga.
In die jongste voorval is konst. Khulani Shabangu in Mei in Lillydale vermoor.
Werner Weber van die VF+ noem die aanvalle barbaars en ’n regstreekse aanval op openbare orde.
Luister:
Die DA vra weer die LUR vir Gemeenskapsveiligheid, Jacky Macie, om alle polisiestasiebevelvoerders opdrag te gee om dadelik toegewyde vuurwapenbeamptes aan te stel.
Dit het aan die lig gekom dat slegs 18 uit 90 polisiestasies in die provinsie daarvoor gemonitor is – en dat nie een van hulle oor dié vereiste beamptes beskik om vuurwapens te bestuur nie.
Teboho Sekaledi van die DA vra hoe die stasies hul eie vuurwapens bestuur of die publiek help om aansoek te doen vir bevoegdheidsertifikate en lisensies.
Luister: