100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

NHS verkies nuwe beheerliggaam

Written by on March 18, 2021

Hoërskool Nelspruit (NHS) het die week hul nuwe skoolbeheerliggaam verkies.
Volgens die organiseerder, Gerda Dreyer, het dit vlot verloop. ’n Totaal van 360 ouers het hul kruisies getrek om die lede te verkies wat tot 2023 in hul amp sal dien.
Louis van der Nest is weer as die voorsitter aangewys. Die ander lede is Rénald Radley, Hannelie Pieterse, adv. Maritza Uys, Louise Snyman, Nonnie Grimbeek, Marius Nel, Daan de Kock en adv. Patrick Loots.
Die meeste plaaslike skole moet nog hul verkiesings hou. Dit duur landwyd tot die einde van die maand.
Van der Nest het ook op sy kinders se laerskool se beheerliggame gedien. Hy sê al die lede doen dit vir die liefde van kinders.
“Ek het gesien wat dit beteken vir alle kinders. Die beheerliggame waarop ek was se einddoel was nog elke keer, ‘Wat is die beste vir die kind?’
“As die kinders en onderwysers gelukkig is, gaan die skool die gemeenskap uitstekend dien. ’n Gemeenskap kry die skool wat hy verdien. Ek sien dit met die ouers se meelewing, al is dit nie elke dag maklik nie.”
NHS, die enigste enkelmedium Afrikaanse skool in Mpumalanga, word deur universiteite beskou as ’n voorkeur-skool van waar om kinders te werf – wat baie deure oopmaak vir die leerders.
Van der Nest sê hulle was tydens inperking gelukkig dat hulle teen die einde van 2019 daarin geslaag het om WiFi-opvangs regoor die skool te installeer met die oogmerk om e-leer te begin inbring.
“Ons moes skielik oornag aanlyn begin leer, maar kon die dag na die skool heropen het, dit doen.
“Die onderwysers het ongelooflik ingespring, so ons het letterlik nie een skooldag gemis weens inperking nie,” sê Van der Nest.
Dit was ’n groot leerkurwe rondom rekenaarvaardigheid.
Van der Nest glo die nuwe manier van skoolgaan is op die lang duur goed vir die kinders.

“Ek dink die grootste voordeel, wat ons dalk nie nou al besef nie, is dat kinders skielik gedwing is om selfstudie te doen. Dit is iets wat die meeste van ons eers op universiteitsvlak begin leer.
“Nou moet hulle dit sedert gr. 8 al doen. Dit is ’n selfdissipline wat net vir jou deure gaan oopmaak vorentoe.”


×