100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

NHS atletieksterre skitter by Super Interhoër

Written by on March 8, 2022

Hoërskool Nelspruit (NHS) se Ashley Erasmus was die ster van die jaarlikse NWU Super Interhoër wat Woensdag in Roodepoort plaasgevind het.
Sy het rekords laat spat in die gewigstoot (18,05 m, 1 000 punte) en skyfwerp (47,79 m, 1 000 punte) om haar posisie as die land se beste o.17- veldatleet te bevestig.
Rhodé Nel het die Nellie-rekords vir dogters o.19 in die 100 m en 200 m verbeter. In die 100 m verbeter sy haar eie 12.13 sek. van die vorige naweek, na 12.07 sek, en hoewel dit haar ‘n silwermedalje besorg het, het sy in die 200 m Marelise Weich se 1979-rekord van 24.90 sek. in die slag laat bly met haar wentyd van 24.82 sek.
Drie Nellies-rekords het ook in die aflosse gespat. NHS se kookwater-spannetjie in seuns o.14, het die 2007-rekord van 47.50 sek. kis gehardloop deur in 47.32 sek. die eerste plek te verower.
NHS se meisies o.14 het met ‘n indrukwekkende tyd van 51.59 sek. gewen, wat die 2013-rekord (51.97 sek.) uit die rekordboeke vee.
Soos met die Laeveld-interhoër, het Nelspruit se twee o.19-spanne gesorg dat NHS in die laaste aflosse, die laaste sê gehad het. Die seuns het ‘n pragtyd van 42.37 sek. opgestel om die 2019-rekord van 42.72 te verpletter.
Al kon hulle nie ‘n Nellie-rekord opstel nie, was die meisies se wentyd van 49.44 sek. uitstekend en het hulle behoorlik die hakke vir hul teenstanders gewys.
Ander goue medaljes is ingepalm deur Kian Mouton (s.17 800 m), Jordan Pretorius (s.15 300 m-hekkies en verspring), Mendel Smook (s.15 hoogspring), Marko Matthee (s.16 verspring), Zoë Cilliers (m.14 100 m en 200 m), Shanese de Clerck (m.17 hoogspring en verspring), Rojandi Coetzee (m.14 hoogspring), Elizma de Villiers (m.15 hoogspring) en Chané Strydom (m.17 spiesgooi).
Die skool se seunsspan was die dag kampioene in die B-bond. Die dogters moes met derde plek tevrede wees, met NHS wat algeheel tweede geëindig het, gevolg deur Rustenburg.
Met sy groottotaal van 765, was dit Noordheuwel wat die B-bond ingepalm het, en opskuif na die A-bond in 2023.

Foto: Ashley Erasmus in aksie by die Laeveld Interhoër 2022.
Berig: Kobus de Wet


×