100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

MTPA staking na twee weke verby

Written by on April 21, 2021

Die bestuur van die Mpumalanga toerisme- en parke-agentskap (MTPA) en die provinsiale leiers van Nehawu sal na verwagting vandag die ooreenkoms onderteken waarvolgens werknemers se griewe aangespreek sal word.
Die onwettige staking deur werknemers van die agentskap is gister, na presies twee weke, afgelas. Die MTPA se kantore en reservate is op 6 April gesluit deur Nehawu-lede. Al die reservate wat toe was, is Dinsdag heropen vir besoekers.
Die stakende werknemers het onder meer geëis dat werknemers in waarnemende bestuursposte permanent aangestel word. Hulle wil ook hê dat die senior bestuursposte wat onlangs geadverteer is, nie gevul word tot die waarnemende mense geplaas is nie.
MTPA-woordvoerder, Kholofelo Nkambule, sê ‘n taakspan wat saamgestel is uit lede van die vakbond en MTPA-bestuur, maak vordering met die lang lys kwessies.

Die LUR vir finansies, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, Vusi Mkhatshwa, het op 9 April met MTPA-bestuur en die provinsiale leiers van Nehawu vergader en die taakspan aangestel.
Hulle is twee weke gegun om die kwessies op te los. Nkambule sê hulle gee deurgaans terugvoering aan hul lede.
Johannes Nobunga, uitvoerende hoof van die MTPA, is vol vertroue dat die taakspan sy werk af sal handel teen Vrydag.
Hy voeg by dat die staking ‘n negatiewe uitwerking op die toerismesektor gehad het en besoekers verontrief het.
“Ons natuurreservate is weer oop vir besigheid en toeriste kan nou hul besoek sonder onderbreking geniet. Ons vra om verskoning vir die ongerief. Ons werknemers is gereed om julle in die provinsie te verwelkom.”
Die private sektor het dit ekonomiese sabotasie genoem. Volgens die Kruger-Laeveld-sakekamer kan die bedryf, wat kwaai gebuk gegaan het onder Covid-19-inperkings, dit nie bekostig nie.


×