100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Mpumalanga vier Wêreld-onderwysersdag

Written by on October 5, 2020

LUR vir onderwys, Bonakele Majuba, het vieringe vir Wêreld-onderwysersdag Maandagoggend by Hoërskool Bergvlam bygewoon.
Leerlinge van Bergvlam, Hoërskool Nelspruit, Lowveld High en studente van MRTT het saam ‘n 100 pankoeke gebak en versier om onderwysers te bedank.
Verskeie is met die landsvlag versier om ook die 10-jaar sedert die 2010 Wêreldbeker-sokkertoernooi te herdenk.
Dit sal aan spesiale skole geskenk word.

Majuba sê vanjaar behoort leerkragte spesiaal bedank te word, gegewe die uitdagings wat die Covid-19-pandemie aan hulle gestel het.
Vyftien onderwysers is weens die virus in die provinsie dood.
‘n Totaal van 539 het tot dusver positief getoets vir die virus, waarvan 524 herstel het.
Majuba sê baie skole het ook uitdagings met water en tegnologie.

Mercia Mthombeni (29) van Bunny Khosa Sekondêre Skool in Bosbokrand, wat vanjaar ‘n nasionale onderwystoekenning ontvang het vir uitnemendheid in wetenskaponderrig, beaam dit.
“Die virus het ons gewys ons moet saam met die tye beweeg en die vierde industriële revolusie omarm,” sê sy.

Mercia Mthombeni

“Ons hoef nie meer te fokus op ‘n swartbord en kinders wat voor jou in die klas sit nie, maar kan ander mediums gebruik.
“Dit het ons egter die groot verskil gewys tussen leerlinge in landelike areas. Die meeste het die data nie, en soms het hulle ook nie slimfone nie.”
Mthombeni sê om dit te oorbrug, bied hulle ekstra klasse aan om seker te maak die leerlinge word nie agtergelaat nie.
Gordon Lancaster, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie in Mpumalanga, het in sy toespraak gesê onderwysers het in die afgelope jaar se uitdagende en onseker tye innoverende oplossings gevind.
“Dit is wat ons vandag hier vier.”

LUR Bonakele Majuba

Majuba sê op sy beurt dat die verskille tussen skole histories is, en iets is wat hulle hard werk om op te los.
“Julle is die hoop van ons kinders en gee hul drome vlerke,” sê hy. “Julle verander lewens, gedrag en maak verantwoordelike burgers van ons kinders.”


×