100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Mpumalanga skade kan by R1 miljard draai

Written by on February 16, 2021

Die provinsie tel nog aan die skade wat die afgelope drie weke deur swaar reën en oorstromings veroorsaak is, maar volgens Mpumalanga-rampbestuur behoort dit realisties naby aan R1 miljard te eindig.
Jacques Benade sê hulle is reeds verby R500 miljoen. Die skade het ‘n week gelede op ongeveer R420 miljoen gestaan.
Hy sê skade aan munisipale infrastruktuur alleen beloop reeds sowat R300 miljoen. Skade aan huise, plase en paaie is ook groot. Alles moet egter nog geverifieer word.
Die jongste reën het na tropiese sikloon Eloise die bestaande skade bloot vererger omdat dieselfde areas daardeur geraak is.
Die R541 tussen Badplaas en Machadodorp is egter heeltemal toe.

‘n Totaal van 10 verdrinkings verwant aan die vloede is nou bevestig, nadat nog ‘n slagoffer Saterdag verdrink het. Twee mense word steeds vermis. Sewe verdrinkings is aangeteken wat nie aan oorstromings gekoppel word nie.
“Die damvlakke lyk goed, en die vloeivolumes het ‘n bietjie afgeneem,” voeg Benade by.
Hy waarsku dat mense stroomaf van Driekoppies-, Vygeboom-, Nooitgedacht- en Loskop-dam versigtig moet wees.
Die skade aan huise het voor die naweek reeds R66 miljoen beloop.
Die jongste damvlakke lyk vandag as sulks (teenoor die vlakke soos dit Vrydag daar uitgesien het): Vygeboom 101,9% (102%), Blyderivier 102% (101,5%), Witklip 101% (101,4%) Primkop 101,7% (101%) Da Gama 100,6% (100,8%), Driekoppies 99,8% (99,8%), Klipkoppjes 87,6% (79%), Kwena 82,6% (77,5%), Inyaka 77,9% (75,9%), Longmere 82,9% (73%) en Lomati 54,5% (51,7%).



×