100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Mpumalanga premier betaal boete oor masker

Written by on January 26, 2021

Die premier van Mpumalanga, Refilwe Mtsweni-Tsipane, het haarself gister by die polisie in eMalahleni (Witbank) aangemeld om ‘n skulderkenning te beteken, en ‘n boete te betaal.
Dit nadat sy Sondag by die ontslape minister Jackson Mthembu se begrafnis gewaar is sonder ‘n gesigmasker.
Mthembu is Donderdag weens Covid-19 oorlede.
Volgens Mtsweni-Tsipane is haar masker beskadig en het sy nie besef dat dit afgeval het nie en het dit slegs enkele oomblikke geduur voor sy ‘n nuwe masker bekom het om te dra.
“Ek het diep daaroor nagedink en ek berou dit, veral as ‘n openbare figuur wat ‘n Covid-19-begrafnis bygewoon het,” het sy in ‘n verklaring gesê.
Sy het ook in ‘n verklaring aan pres. Cyril Ramaphosa, sy adjunk David Mabuza, die Mthembu-familie en die publiek om verskoning gevra.
Verder het sy 1 000 gesigmaskers gekoop wat in eMalahleni versprei sal word, as deel van ‘n openbare bewusmakingsinisiatief oor die ernstige aard van die virus.
Die premier het ook haar medelye uitgespreek aan almal wat geliefdes verloor het weens Covid-19 en gesê sy sal vir die volgende 14 dae* selfisoleer.
Haar naam en die hitsmerk #arrestrefilwe was gister baie gewild op Twitter, soos die publiek en media te velde getrek het teen die vermeende “voorkeurbehandeling” wat sy weens haar gedrag sou geniet.
Die DA in Mpumalanga het ook ‘n beroep gedoen op die polisie om haar te arresteer. Die partyleier in die provinsie, Jane Sithole, het te velde getrek teen die dubbele standaarde.

“Dit is belaglik dat die polisieminister, Bheki Cele, gesê het dat die saak ondersoek moet word.
“Daar is geen rede vir ‘n ondersoek nie, dit is op nasionale televisie uitgesaai vir alle Suid-Afrikaners om te sien.
“As dit enige gewone burger was, sou hulle reeds in hegtenis geneem en beboet gewees het, sonder enige ondersoek.”
Sithole wil ook hê dat die premier voor die portefeuljekomitee oor die premier se kantoor in die provinsiale wetgewer moet verskyn.


*Die eerste weergawe van hierdie berig het aangetoon dat die premier vir 14 weke sal isoleer.


×