100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Mopani-bergfietsuitdaging in Barberton vanjaar eers in Mei

Written by on January 28, 2021

Vanjaar se Mopani XCM-bergfietsuitdaging in Barberton se datum is bevestig as Saterdag 8 Mei.
Dit sal die 25ste aflewering wees van die resies, wat gewoonlik in Januarie aangebied word.
Weens inperkingsregulasies moes dit egter uitgestel word. Die nuwe datum akkomodeer ook die bergfietsryers wat aan ander wedrenne deelneem, soos die Sani2C.
Die organiseerders, die Rotariërklub van Barberton, sê hulle hoop vir sowat ‘n 1 000 inskrywings, wat relatief in lyn is met wat hulle jaarliks lok.
Die klub se Chris Rippon sê dat alle wins wat die bergfietsuitdaging genereer, aan welsynsprojekte spandeer word.
Daarmee ondersteun hulle deur die jaar verskeie projekte, meestal rondom Barberton. Dit sluit in ‘n kerk wat tussen 45 en 50 bejaarde mense – wat nie meer na hulself kan omsien nie – weekliks van kos voorsien.
Ander projekte is die verkragtingkrisissentrum by die polisiestasie, asook verskeie projekte was skole en die jeug ondersteun.
“Dit is tans ‘n bietjie van ‘n krisis,” sê Rippon oor hul jaarlikse fondse wat nou eers in Mei met die wedren aangevul kan word.

Voorafinskrywings sluit 2 Mei om 23:00. Dit kan by die Mopani-aptreek by Crossing-sentrum gedoen word.
Laat inskrywings kan tot Vrydag 7 Mei by Hoërskool Barberton gedoen word, tussen 15:00 en 21:00, en weer die Saterdag vanaf 05:30 tot 07:00.
Daar is ‘n 20 km (R90), 30 km (R120), 50 km (R200), 77 km (R250) en 110 km (R300) om van te kies.
Alle wedrenne begin en eindig by Hoërskool Barberton. Die prysuitdelings, stalletjies en biertuin sal ook hier opgestel word.
Nie-bederfbare kos en gebottelde water kan ook hier geskenk word.
Besoek die Barberton XCM MTB Challenge-blad op Facebook vir meer inligting oor die wedren. Om die Rotariërklub intussen met hul projekte te help, kontak Rippon by [email protected].



×