100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Meer besonderhede oor skooljaar nodig

Written by on July 25, 2020

Hoërskool Rob Ferreira sê dit is baie belangrik dat die regering so gou moontlik hul planne vir die res van die skooljaar kommunikeer.
President Cyril Ramaphosa het Donderdagaand aangekondig dat staatskole vir ‘n maand sluit.
Gr. 12-leeringe kan egter oor ‘n week terugkeer, en gr. 7-leerders na twee weke.
Die departement van basiese onderwys moet verdere besonderhede verskaf.
Volgens Dawie Oberholzer, Rob se skoolhoof, het ouers, kinders en onderwysers so gou moontlik inligting nodig.

Rob Ferreira volg ‘n model waarvolgens die gr.12-leerlinge voltyds skoolgaan. Die gr. 8’s tot gr. 11’s is in groepe verdeel en leerlinge wissel mekaar weekliks af met skoolbywoning en afstandonderrig.
Tot dusver het geen leerling of onderwyser by die skool positief vir die Covid-19-virus getoets nie.
Verskeie leerlinge moes wel saam met hul gesinne selfisolasie toepas.

Tog, bereken Oberholzer die gr. 12’s se bywoning as gemiddeld 90% tot 95%.
“Ons vind die kinders het begin moeg word, selfs al gee jy hulle onder streng toesig ‘n blaaskans van die maskers. Dit is onaangename omstandighede.”
Die standaard van onderrig was egter hoog. “Almal is gefokus, want daar is nie buitemuurse aktiwiteite wat hul aandag aftrek nie.
“Ons was verras deur die president se aankondiging. Vier weke is ‘n bietjie lank.
“Ek sou persoonlik ook verkies het dat die gr. 11’s oor dieselfde kam geskeer word as die matrieks.”

Volgens Ramaphosa is hulle versigtig omdat die land se infeksies baie hoog is, en leerlinge en leerkragte se gesondheid kritiek is. Landwyd is daar tans 421 996 positiewe gevalle. In Mpumalanga is daar 8 942 en in Mbombela-munisipaliteit 1 146. Wat duidelik is, is dat die skooljaar tot in 2021 verleng sal word. Tot die minister van basiese onderwys egter daaroor uitwei, kan skole slegs spekuleer oor hoe dit gaan werk.
Die sillabus is reeds verkort, en vakinhoud kan verder aangepas word.
Finale eksamens vir laer grade kan na Maart skuif of die skoolkalender kan heeltemal verander om in Junie te eindig.
“Wat nodig is, is koördinasie tussen die departemente van basiese en hoër onderwys,” sê Oberholzer.

 


×