100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Mannejag geloods na vrou in Witrivier vermoor is

Written by on March 3, 2021

Die polisie in Mpumalanga is op soek na twee mans wat die naweek in onderskeidelik Witrivier en Masoyi verskeie ernstige misdade gepleeg het.
‘n Onbekende man het Sondag ‘n 35-jarige vrou in Witrivier vermoor.
Volgens die provinsiale polisiewoordvoerder, brig. Leonard Hlathi, het hy in ‘n blou Toyota Etios drie vroue ‘n geleentheid aangebied van Kabokweni na Mbombela.
Hy het op ‘n afgeleë plek naby Witrivier gestop, ‘n vuurwapen op hulle gerig, en hulle beroof van hul kontant.
Een van die vroue het hom met pepersproei gespuit en hy het haar geskiet.
Hy het die ander twee uit die kar laat klim en weggery met die gewonde vrou.
Hulle kon alarm maak en die polisie is in kennis gestel.
Die man is na ‘n plantasie op ‘n plaas in die area waar hy die sekuriteitswag gedreig het en van sy uniform beroof het.
Hy het die Etios aan die brand gesteek, ‘n wit Toyota Fortuner gekaap en gevlug. Dié voertuig is later in Kiepersol naby Hazyview agtergelaat gevind.

Volgens Hlathi toon die voorlopige ondersoek dat die Etios in September in Mbombela as gesteel aangemeld is.
Enigiemand met inligting is gevra om die Witrivier-speurtak se bevelvoerder te kontak by 082-449-0334.
Die polisie soek ook na ‘n 37-jarige man wat onder polisiebewaking uit ‘n hospitaal ontsnap het vroeg Saterdagoggend.
Die verdagte en ‘n medepligtige het Vrydag glo ‘n bakkie gesteel in Masoyi naby Hazyview.
Hulle het daarna ‘n man teëgekom besig om gras te sny, op hom geskiet en bo-oor hom gery waar hy op die grond gelê het om sy bossnyer te roof.
Die man ontvang tans behandeling in die hospitaal.
Die bakkie-eienaar het saam met gemeenskapslede die mans en voertuig later by Mshadza Trust opgespoor. Een verdagte het gevlug en die ander is na bewering deur die groep aangerand.
Die saak is by die polisie aangemeld en die beseerde man is hospitaal toe geneem en onder polisiebewaking geplaas.
Vroeg Saterdag het hy badkamer toe gegaan en deur die venster ontsnap.
Buiten die ontsnapping is ‘n saak van diefstal en gewapende roof teen hom geopen. Die polisie ondersoek ook intern hoe hy kon ontsnap het.
Volgens Hlathi word die man ook deur die Nelspruit-polisie gesoek in verband met verskeie sake.
“Ons vra dat Sibusiso Dalton Nkosi, ook bekend as Nunuza, wie ons glo ons kan help in ons ondersoek, of enigiemand wat weet waar hy is, die ondersoekbeampte dringend kontak by 082-449-0223.
Hlathi waarsku dat hy gewapen mag wees en dat dit gevaarlik kan wees om hom te konfronteer.


×