100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Mannejag geloods na skietery, gepoogde kaping in Heidelvallei

Written by on August 26, 2020

Die polisie is opsoek na verskeie gewapende mans wat na bewering vanoggend in twee afsonderlike skietvoorvalle in die Heidelvallei naby Witrivier betrokke was.
Een verdagte is reeds aangekeer.
Volgens Hi-Tech Sekuriteit se operasionele bestuurder vir Witrivier en Hazyview, Jchaan de Beer, het ‘n gewapende man ‘n boer glo om ongeveer 09:30 op sy plaas probeer kaap.
“Daar het ‘n struweling ontstaan en die boer se werker wat saam met hom was, is in die arm geskiet,” sê De Beer.
Dit lyk asof slegs die bakkie se sleutel gebuit is. Die aanvaller het saam met sowat vyf ander te voet op vlug geslaan.
Op die R37 het hulle in ‘n skietgeveg betrokke geraak met ‘n verbyganger en Hi-Tech Sekuriteit, wat ook na hierdie toneel ontbied is.
Die verbyganger is toevallig ook ‘n kliënt van Hi-Tech.

Volgens De Beer is een van hul wagte in die hakskeen geskiet. Die verbyganger het glo ook die een verdagte raakgeskiet.
Die gewonde verdagte is deur ‘n ander voertuig opgelaai, maar dit is voorgekeer en hy is aangekeer. Hy is na die hospitaal geneem.
Sy makkers het glo in die verbyganger se bruin Land Cruiser gevlug. Die voertuig is kort daarna in ‘n plantasie gevind waar dit deur die verdagtes agtergelaat is.
Die mans is gewapen en word steeds gesoek. Die polisie se honde-eenheid is tans op hul spoor in die plantasie.
Die polisie het nog nie op die voorval kommentaar gelewer nie. Daar word verstaan dat niemand ernstig beseer is nie.
Dit is onbekend of enige van die voortvlugtiges gewond is.


×