100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Man skuldig bevind aan vyf moorde in Mpumalanga

Written by on December 17, 2020

Teboho Thokoane (38), ook bekend as Maphoshane, is Dinsdag deur die Mpumalanga-hooggeregshof in Middelburg skuldig bevind aan vyf moorde.
Hy en drie ander mans het ses mense op 12 Oktober 2017 op ‘n plaas in Ogies geskiet.
Een slagoffer het oorleef. Die ander verdagtes is intussen dood.
Thokoane, ‘n Lesotho-burger, is ook skuldig bevind aan poging tot moord asook die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie.
Volgens die provinsiale polisiewoordvoerder, kol. Donald Mdhluli, is die moorde uit wraak gepleeg vir ‘n beweerde groepsgeweld-voorval waarin een van Thokoane se vriende daardie jaar dood is.

Daar word beweer dat een van Thokoane se vriende sowat ‘n maand voor die moorde, na Suid-Afrika gekom het. Hy het glo iemand geskiet en hom verlam gelaat.
Lede van die gemeenskap het die vriend toe aangeval, en hy is dood, aldus Mdhluli.
Thokoane en sy vriende het daarna hulself bewapen en in ‘n voertuig vanaf Evander na die Steyn-plaas in Ogies gereis. Met hul aankoms het hulle op die groep inwoners begin skiet. Vier is op die toneel dood. Die aanvallers het gevlug.
Twee slagoffers is raageskiet en hospitaal toe geneem, waar die vyfde slagoffer aan hul wonde beswyk het.
Hulle was Alice Mbonani (40), Tshego Rampaai (36), Mogale Mokobane (35), Jim Hlathi (50) en Sipho Mabaso (24).
‘n 26-jarige vrou het die aanval oorleef.
‘n Opsporingspan van eMalahleni (Witbank) het die saak ondersoek. Thokoane is later in Evander in hegtenis geneem.
Volgens Mdhluli is die drie ander verdagtes in afsonderlike voorvalle dood voor Thokoane aangekeer is.
Hulle was glo almal onwettige myners.
Die provinsiale polisiekomissaris, luit. gen. Mondli Zuma, het die ondersoekspan gelukgewens vir hul goeie werk.
Thokoane sal op 8 Februarie 2021 gevonnis word. 


×