100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Lefpa waarsku oor spertyd vir voorbrande

Written by on July 7, 2021

Die Lowveld Escarpment Fire Protection Association (Lefpa) raai grondeienaars aan om voorbande af te handel voor die einde van Julie, om gereed te wees vir wanneer die Augustuswinde opsteek en die droë toestande, saam met koue fronte, die brandgevaar beduidend verhoog.
André Scheepers van Lefpa sê tot dusver verloop die 2021 brandseisoen, wat tot Oktober in die Laeveld duur, nog min-of-meer soos verlede jaar. Die warm, droë toestande wat die laaste twee weke in Junie geheers het, het Lefpa se spanne redelik besig gehou.
“Die brandgevaar was baie hoog weens warm, droë en winderige toestande met lae humiditeit en mense wat soms roekeloos is daar buite en brand wanneer hulle nie moet nie,” sê hy.
Hoewel die area uitstekende somerreën ervaar het, is die meeste brandmateriaal steeds te klam om te kon brand omdat die area nog nie genoeg erge koue ervaar het nie.

“Ons raai aan dat voorbrande afgehandel moet wees teen einde Julie, want in Augustus is dit droër en winderig en die koue fronte van die Kaap af is voordelig vir ernstige vure,” sê Scheepers.
Lefpa vra dat mense versigtig bly en nie vure maak wat hulle nie kan beheer nie. Hou die weer en brandgevaarindeks dop voor jy besluit om te brand. Werk ook eerder saam met jou bure.
Kontak die vereniging eerder vir hulp en raad by 086-066-3473.


×