100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Krugerwildtuin kry eerste vroulike hoofveldwagter

Written by on April 14, 2021

Cathy Dreyer is aangestel as die eerste vroulike hoofveldwagter van die Nasionale Krugerwildtuin (NKW).
Dreyer is tans die hoof van bewaring by die Addo-olifant Nasionale Park. Sy begin op 1 Mei in haar nuwe pos by die wildtuin.
Dreyer vervang vir Ken Maggs, wat afgetree het na amper 40 jaar by SANParke.
Woordvoerder, Ike Phaahla, sê sy het baie ervaring in mensebestuur, strategie en leierskap en was die beste kandidaat.

Die besturende hoof van die NKW, Gareth Coleman, het haar op haar historiese aanstelling gelukgewens.
Dreyer was voorheen in die wildtuin gestasioneer waar sy veral betrokke was by die beskerming van renosters. Sy was ook al bewaringsbestuurder by die Groot-Visrivier-natuurreservaat.
“Ons sien daarna uit om haar by die wildtuin terug te verwelkom. Sy is geen vreemdeling vir die uitdagings wat gestel word deur bewaring en natuurmisdaad nie,” sê Coleman.
“Sy het haarself bewys as ‘n toegewyde bewaarder en wetstoepasser. SANParke is tans behep daarmee om effektiewe bestuurstrategieë te ontwikkel om spesifiek ons renosters beter te beskerm en om bewaring en misdaad oor die algemeen in die park hok te slaan.”
Dreyer sal ‘n sleutelrol speel in die implementering van hul nuwe planne.
Sy self sê sy is verheug met haar aanstelling. “Leierskap is ‘n voorreg en ek sien daarna uit om saam met die toegewyde veldwagters en bestuurspanne te werk.”


×