100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Kenner sê onderrig lewer nie wat die arbeidsmark vereis nie

Written by on January 28, 2022

Hoe gemaak met al die gr. 12-leerlinge wat jaarliks matriek slaag met vrystelling om grade of diplomas op tersiêre vlak na te jaag, maar vir wie daar nie plek is in openbare instellings nie?
Dit is een van die vrae wat prof. Stephen Khehla Ndlovu, adjunkhoof van strategie, risiko en adviesdienste by Unisa, ondersoek het tydens ‘n ontbytgesprek wat Woensdag deur die nuut geopende Kishugu Business School (KBS) aangebied is. Die doel was om die 2021 matriekuitslae te ontleed, iets wat Thomas Varghese, een van die direkteure van KBS, voel nie genoeg gedoen word nie.
Volgens Ndlovu het 433 603 leerlinge in 2021 met toelating geslaag, maar daar is slegs plek vir 208 000 studente in die land se openbare universiteite vanjaar.
“Dit is goeie nuus dat meer matrieks slaag, maar ons het nie die kapasiteit om hulle in te neem nie,” sê hy.
Baie wend hulself tot die private sektor, waar meer as 300 instansies tersiêre onderrig bied. Dit is egter, sonder regeringsondersteuning, duurder.
Ndlovu stel voor dat ‘n tipe staatsubsidie vir private instansies oorweeg word, om dit meer beskostigbaar te maak vir studente.
Hy staan ook groter samewerking tussen hoër onderwys en industrieë voor om te verseker die vaardighede wat verlang word, word aan studente oorgedra.

“Put werkgewers waarde uit die sertifikate wat verwerf word? Beskik gegradueerdes oor die vaardighede waarna hulle soek? Sê hulle vir ons watter vaardighede hulle benodig, en lewer ons dit?”

Hy voeg by dat daar nie genoeg van die regte vaardighede wat benodig word gelewer word nie, en te veel van dit waarna daar nie ‘n ewe groot vraag is nie.
Hy het afgesluit met die voorstel dat werkgewers saam met tersiêre instellings werk om te herevalueer hoe meer geleenthede geskep kan word.


×