100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Imbizo oor veiligheid Saterdag in Barberton gehou

Written by on September 8, 2022

‘n Imbizo oor veiligheid word Saterdag in Barberton gehou om kwessies soos onwettige mynbou, bendegeweld en dwelms in skole aan te spreek.
Die LUR vir gemeenskapsveiligheid, Vusi Shongwe, sal deur die minister van polisie, Bheki Cele, vergesel word by die vergadering met gemeenskapslede in ‘n proging om praktiese oplossings vir hul uitdagings te vind.
Shongwe het in die aanloop tot die imbizo gisteraand reeds ontmoet met rolspelers in Umjindi, insluitende die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), taxi-vereniging, skool beheerliggame, departement van onderwys, raadslede en die polisie.
“Inwoners het ‘n integrale rol om te speel om misdaad te beveg en moet opstaan en sê, ‘genoeg is genoeg’,” het hy gesê.
“Die grootste mag om misdadigheid uit te roei is die gemeenskap self, want hulle ken die misdadigers.”
Die ministerie van polisie sal vandag en môre ook ‘n reeks besoeke bring aan stasies waar die meeste kontakmisdade aangemeld word in die provinsie as deel van ‘n samewerkingsprogram tussen ministers en LUR’e (MinMec). Die provinsiale polisiekommissarisse van al nege provinsies sal die besoeke na verwagting meemaak.
“Die doel is vir die afvaardiging om die dinamika wat dienslewering raak eerstehands te ervaar en ingrypings te formuleer,” sê woordvoerder Lirandzu Themba.
Vandag sal daar besoek afgelê word by polisiestasies in Acornhoek, Barberton, Bosbokrand, Calcutta, Kabokweni, Kanyamazane, Komatipoort, Masoyi, Nelspruit en Pienaar.
Die imbizo vind Saterdag om 10:00 by die Barberton-sportgronde plaas.


×