100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Hoe om amptelike mediese veldwerkers uit te ken

Written by on April 2, 2020

In sy toespraak op Maandagaand 30 Maart het pres. Ramaphosa ʼn uitgebreide landswye veldtog, vir die opspoor van mense wat met die koronavirus besmet is, aangekondig. Hierdie siftingsproses, in Engels screening, sal help om mense op te spoor wat simptome van die virus toon. Hy het onder meer gesê dat 10 000 veldwerkers ontplooi sal word om van huis tot huis te gaan om mense te monitor. Dit sal nie net tot stede beperk wees nie maar selfs die kleinste dorpies en informele nedersettings sal ook deur die veldwerkers besoek word. Reeds die volgende dag is daar op sosiale media kommer uitgespreek oor die moontlikheid dat iemand aan jou voordeur gaan kom klop om te kyk of jy enige simptome van die virus toon. Hoe sal ʼn mens weet so ʼn persoon het die nodige magtiging om dit te doen, en is nie bloot net ʼn skelm wat op daardie manier toegang tot jou huis wil kry nie, is daar gevra. Die departement van gesondheid se adjunk-direkteurgeneraal, Dr. Yogan Pillay, het mense in ʼn radio-onderhoud op 702 gerus gestel. Hy het gesê al hierdie veldwerkers sal identifikasiemerkers aan hulle dra om aan te dui dat hulle deel is van die amptelike proses. Hulle sal ook geklee wees in eenderse T-hemde en sal ook verplig wees om hulle amptelike ID-dokument by hulle te dra. Daarbenewens sal polisiebeamptes hulle vergesel. Dit werk beide kante toe. Die polisie kan hulle beskerm in enige moontlike vyandige situasie in sekere gemeenskappe, maar kan ook seker maak dat die publiek veilig is. Pillay het verder gesê dat gemeenskapsleiers in kennis gestel gaan word wanneer daar in ʼn sekere area toetsing gaan plaasvind. Die leiers kan dan weer die boodskap aan die gemeenskap stuur dat daar beplande tuisbesoeke gaan wees om vir die virus te monitor. Daar is reeds op Dinsdag in Alexandra, Johannseburg begin met ʼn proeflopie. Die area is daarvoor geoormerk nadat ʼn inwoner van Alexandra positief getoets het vir COVID-19. Die persoon het intussen onwettig na Limpopo gereis waar hy tans geïsoleer word.


×