100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Groot reën Sondag verwag: Hier is die Laeveld se voorspellings

Written by on January 23, 2021

Eloise is vanoggend afgegradeer tot ‘n matige tropiese storm, nadat dit Mosambiek bereik het.
In Suid-Afrika sal Limpopo die ergste getref word, maar swaar reën word in die hele Laeveld verwag.
Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) kan dit vanaand reeds in die Laeveld begin reën, maar die swaarste neerval word môre verwag.
Wayne Venter, weervoorspeller van die SAWD, sê die hele area van Skukuza tot Mbombela (Nelspruit) kan tussen 50 mm en 100 mm binne 24 uur verwag.
Die Blyderiviercanyon en Graskop op die platorand behoort meer te kry.
Suid (in Barberton se rigting) na die grens met Eswatini, kan tot 150 millimeter tussen Sondag en Maandag val.

Die weerdiens het ‘n oranje vlak-9 waarskuwing uitgereik vir ontwrigtende reën Sondag.
In Limpopo sluit dit in Phalaborwa, Giyani, Makhado, Maruleng, Mkhondo, Musina en New Collins Chabane plaaslike munisipaliteite.
In Mpumalanga is dit Albert Luthuli, Bosbokrand, Nkomazi en Mbombela-munisipaliteite, asook Barberton en Sabie.
Mbombela plaaslike munisipaliteit het bevestig dat hulle op ‘n hoë gereedheidsvlak is en het mense aangeraai om enige reise in hierdie areas liefs te vermy.
Mense moet ook nie riviere of strome wat meer as enkeldiep is, probeer oorsteek nie.
Die Krugerwildtuin is ook op ‘n hoë gereedheidsvlak. Die noordelike deel van die wildtuin behoort deur Sondag deur swaar reënval en sterk winde geraak te word.
Gaste met besprekings vêr noord, soos by Sirheni-, Shimuwini- en Bateleur-kampe sowel as Sable Hide sal by Letaba-, Mopani-, Shingwedzi- en Punda Maria-ruskampe geakkomodeer word.
Kontak Mbombela om enige rampsituasies aan te meld by 013-753-3331.


×