100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Gesoekte verdagte in polisieaanhouding

Written by on February 14, 2022

‘n Man wat beskryf word as een van die mees gesoekte kriminele in Mpumalanga sal vandag in die hof verskyn in Bosbokrand en Dinsdag in Mkhuhlu.
Die 21-jarige is Vrydag aangekeer en word verbind met verskeie misdade.
Volgens die provinsiale polisiewoordvoerder, brig. Selvy Mohlala, is die deurbraak gemaak in samewerking tussen die Gauteng polisie se misdaadintelligensie in Pretoria-Wes, Mpumalanga se teenbende- en opsporingseenhede.
Hy is opgespoor in polisieaanhouding in Gauteng na hy voorverlede week in Pretoria aangekeer is vir die onregmatige besit van vuurwapens en ammunisie.
Die man word gesoek in verband met 14 moorde, verkragting en ontvoering, aanranding met die doel om ernstig te beseer, brandstigting, huisbraak asook opsetlike saakbeskadiging in Calcutta en KaNyamazane.
Een van die moorde was op die 26-jarige Patricia Juliet Ndlovu van Marite naby Hazyview in Augustus. Sy was swanger toe haar liggaam in die Krokodilrivier naby KaNyamazane gegooi is nadat sy geskiet is.
Volgens Mohlala sal hy na verwagting teen Woensdag vir dié saak in die KaNyamazane-landdroshof verskyn.

Nog twee moordverdagtes sal vandag in eMalahleni in die hof verskyn op klagte van moord.
Die 20- en 23-jariges word daarvan aangekla dat hulle op 7 Februarie in Hlalanikahle in Vosman die 42-jarige Jabu Mathibela beroof en vermoor het. Hy is verskeie kere gesteek. Sy liggaam is deur sy familie ontdek.
Die verdagtes is Donderdag in die vroeë oggendure aangekeer in hul huis, nie vêr van waar Mathibela gevind is nie.
Hulle is na bewering in besit gevind van wat geglo word Mathibela se eiendom is, asook die moontlike moordwapen.


×