100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Gesinspret by die Innibos Buitelug Familiefees

Written by on September 15, 2022

Innibos het vanjaar sy resep aangepas en hou op Vrydag 30 September en Saterdag 1 Oktober ’n buitelug familiefees. Dit is provol pretaktiwiteite en kompetisies vir elke smaak en ouderdom en vermaak uit die boonste rakke.
Die fees vind plaas by Kwanyoni Lodge op die N4 net buite Mbombela en die program is vol doen-dinge en demonstrasies.
Sandra Jacobs het vir Gerhardt en Andri vertel waarna feesgangers alles uit kan sien.

Die aksie skop Vrydagmiddag af met ’n opwindende skattejag vir die kinders met lekker kopkrap-leidrade en allerlei pryse.
Feesgangers het ook die geleentheid om verskeie bekende kykNET-akteurs op die kuierstoep te ontmoet en om 18:00 begin die joligheid by die musiekverhoog met 0260 Duo, Reën, Jan Jan Jan, Bernice West en Ricus Nel.

Kom snuffel Saterdag vanaf 10:00 deur die stalletjies. Op die kuierstoep kan jy leer hoe om wors te maak, vis te vang, herwinde artikels in te span om ’n tafel mooi te maak, en die kykNET-sterre probeer klop met jou koekversieringtalent.
Mbombela se eie Riaan Loubser gaan met die koppe smokkel as The Mentalist, en die gewilde rubriekskrywer Blouwillem Theron kom vertel staaltjies saam met ’n paar Puma-spelers.
In die Boma is dit om 12:00 tyd vir whiskey proe en ’n fotogeleentheid met die Curriebeker. Sluit die dag af met ’n skemerkelkie-demo en -kompetisie.
Op die musiekspyskaart Saterdagaand is plaaslike rocker Coenie Naudé, Droomsindroom, Refentse, Irene Louise van Wyk, Snotkop en Soul Taxi om die fees op ’n hoë noot af te sluit.
Vir die kleinspan is daar oor die twee dae ’n spesiale kinderarea met ’n voldagprogram asook ponieritte en visvang.

Groter kinders kan in die Klipspringer Buitelug-arena aan boogskiet en teikenskiet sowel as ’n oulike bestuur-uitdaging deelneem.
Die manne met die baarde moet ook inskryf vir die Innibos baard-kompetisie. Dié met lang baarde, mooi baarde, stoppelbaarde of woeste baarde staan ’n kans om lekker pryse los te slaan.
Mans en vroue is ook genooi om te kom been wys in die Boerboel Bene-kompetise. Inskryfvorms is op die Innibos webblad beskikbaar en sluit 20 September.
En wie sal nee sê vir ’n R10 000 kontantprys en ’n nuwe selfoon? Die Innibos TRAC selfoonfoto-kompetisie het die tema, “Dit maak my gelukkig”.
Neem met jou selfoon ’n foto van dit wat jou gelukkig maak en WhatsApp dit voor 30 September na 081-892-5451. Die 40 beste inskrywings sal van 1 tot 5 November by i’langa Mall ten toon gestel word.

Teken ook solank die feesdatums vir volgende jaar aan. Innibos soos die Laeveld hom ken maak sy volwaardige terugkeer vanaf 28 Junie tot 1 Julie 2023.
Besoek innibos.co.za vir die volledige program vir die buitelug familiefees. Kaartjies is beskikbaar by Quicket.co.za.


×