100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Geen arrestasies na bloedige Paassondag in Barberton

Written by on April 6, 2021

Die polisie het nog niemand aangekeer na ‘n skietery Sondag in Barberton ‘n man se lewe geëis het nie.
Twee mans is glo tydens ‘n dispuut tussen twee sokkerspanne geskiet en na Barberton-hospitaal geneem.
‘n Groep mans het glo by die pasiënte probeer uitkom, maar kon nie, en het uit wraak die man geskiet wat een van die gewonde spelers hospitaal toe geneem het.
Veli Mkhoza se kar is ook aan die brand gesteek. Hy is later dood.
Volgens polisiewoordvoerder, kol. Donald Mdhluli, word ‘n saak van moord en twee sake van poging tot moord tans ondersoek.

Die provinsiale gesondheidsdepartement het die voorval veroordeel.
LUR Sasekani Manzini sê dit is jammer as mense die reg in eie hande neem.
“Dit is ook onaanvaarbaar dat mense toegang tot gesondheidsfasiliteite probeer bekom om wraak te soek. Hierdie voorval het die werknemers en pasiënte van die hospitaal ernstig geaffekteer… omdat dit hul lewens in gevaar stel.”
In ‘n afsonderlike voorval is twee 40-jarige mans Sondag in ‘n drinkplek in Barberton dood.
Die polisie het bevestig dat Ralph Hlophe, ‘n werknemer van korrektiewe dienste, glo met sy persoonlike vuurwapen ‘n vriend, Chris Mkhonto, geskiet het.
Hy het daarna die wapen op homself gerig. Volgens Mdhluli is albei mans op die toneel deur paramedici dood verklaar.
“Die bestuur van die polisie in die provinsie is baie besorg daaroor dat sommige lede van die publiek regulasies verontagsaam, insluitende party eienaars van drinkplekke wat nie wetgewing gehoorsaam wat gemaak is om lewens te beskerm nie.”
‘n Ondersoek is van stapel gestuur oor hoe ‘n vuurwapen toegelaat is op die perseel asook die omstandighede ten tyde van die voorval.


×