100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Familie sê Hillary Gardee is in agterkop geskiet

Written by on May 5, 2022

Die polisie in Mpumalanga sê hulle gaan in geen stadium van hul ondersoek na die moord op Hillary Gardee (28) inligting openbaar maak nie. Dit volg na hulle skerp gekritiseer is deur die Gardee-familie en die EFF omdat hulle glo aanvanklik op die toneel ‘n koeëlwond agter haar kop misgekyk het.
Die dogter van die voormalige sekretaris-generaal van die party, Godrich Gardee, is Dinsdagoggend naby die R532 tussen Mbombela en Sabie ontdek deur plantasiewerkers wat op pad werk toe was.
Sy is Vrydagmiddag laas by Nelspruit Plaza in die middedorp gesien. Haar driejarige aangenome dogter was by haar, en is ure later ongedeerd gevind naby hul huis in Kamagugu.
Hillary is Saterdag as vermis aangegee deur die familie, wat ‘n beloning van R100 000 aangebied het vir inligting oor haar verdwyning.
Die polisie het aanvanklik bevestig dat sy kneusplekke aan haar liggaam gehad het. Die woordvoerder van die Gardee-gesin, Sinawo Thambo, sê hulle het geen vertroue in die polisie nie, omdat die koeëlwond eers tydens die nadoodse ondersoek gevind is.
“Dit dui op nalatigheid en dat hulle die toneel nie deeglik ondersoek het nie,” sê hy. “Dit laat ons bekommerd dat die polisie die saak nie ernstig opneem nie.”
Thambo sê verder R1 300 is uit haar bankrekening onttrek in die ure nadat sy vermis geraak het.
Polisiewoordvoerder, kol. Donald Mdluli, sê hulle kommunikeer hul vordering aan haar familie wat dit openbaar kan maak.

“Teen hierdie agtergrond vra ons ruimte om die grusame moord sonder steurnisse te ondersoek,” sê hy.
Polisieminister, gen. Bheki Cele, het eergister gesê hy het die span ondersoekers minder as die gebruiklike 72 uur gegee om leidrade te vind wat sal lei tot die arrestasie van haar aanvallers. Hy het haar familie ook die versekering gegee dat die polisiediens alle moontlike motiewe oorweeg as deel van die ondersoek.
Die voorsitter van die Kommissie vir Geslagsgelykheid, Tamara Mathebula, het ook haar innige meegevoel aan die Gardee-familie betuig. Die woordvoerder, Javu Baloyi, het ‘n beroep gedoen op enigiemand wat dalk inligting het om saam met die polisie te werk.
Kontak die polisie daarmee by 086-00-10111. Alle inligting sal as vertroulik hanteer word.

  • Hillary Gardee sal Saterdag begrawe word. Die EFF sê in ‘n verklaring namens die gesin dat dit by Church on the Hill in Kamagugu plaas sal vind.

×