100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Dodetal weens vloede styg tot nege in Mpumalanga

Written by on February 10, 2021

Die dodetal in die provinsie weens verdrinkings het tot nege gestyg met die ontdekking van ‘n 13-jarige seun se liggaam in Donkerhoek.
Daar word steeds na nog vier mense gesoek wat weens oorstromings reeds dae lank vermis word.
Die woordvoerder van Mpumalanga se departement van samewerkende regering, George Mthethwa, het by navraag bevestig dat dit lyk asof die ergste reën vir eers verby is, met die gevolg dat daar verwag word dat die situasie op die grond sal stabiliseer.
Die beraming van die skade sal volgende aan die nasionale regering voorgelê word om aansoek te doen vir finansiële hulp.
Die premier, Refilwe Mtshweni-Tsipane, het aangedui dat die herstel van huise en paaie vir die provinsie dringend is, en dat hulle hul begroting vir die jaar sal aanpas om dit dadelik te begin herstel.
Grootskaalse skade is aan infrastruktuur aangerig deur die aanhoudende reën na tropiese storm Eloise. Teen gister nog is dit op ongeveer R425 miljoen bereken.

Die Nasionale Krugerwildtuin het ook aanhoudende uitdagings met oorstroming sowel as skade aan infrastruktuur ondervind, veral in die noordelike dele van die park.
Teen vanoggend kon die Sirheni-bosveldkamp wel heropen word. Verskeie paaie bly egter steeds gesluit. Dit is die H15, S10, S113, S118, S135, S139, S14, S147, S23, S3, S47, S48, S52, S53, S56, S57, S62, S63, S64, S65, S69, S7, S8 en die S94.
Die reën was egter nie net slegte nuus nie: Die Lomati-dam, wat die droogte-geteisterde Barberton van water voorsien, se vlakke het vanoggend op 51,3% gestaan. Dit is op van 14% etlike weke gelede.


×