100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Desperate toerisme rolspelers weier om aftog te blaas

Written by on July 30, 2020

Plaaslike toerismeoperateurs het Donderdagoggend weer in konvooi na die provinsiale regering se kantore opgeruk.
Daar was aansienlik minder deelnemers as verlede Woensdag se optog, toe hulle ‘n brief aan die LUR vir toerisme en ekonomiese ontwikkeling, Pat Ngomane, oorhandig het.
Organiseerder, Hylton Langley, sê niks het intussen verander nie, maar mense moenie moed opgee nie.

Die minister van toerisme, Mmamoloko Kubayi-Ngubane, het Donderdagmiddag wel ‘n paar aankondigings gemaak.
Mense mag nou vir ontspanning reis, en by hotelle tuisgaan, maar slegs binne hul eie provinsies. Voorheen is slegs sakereise toegelaat.
Die aandklokreël is ook aangepas om eers om 22:00 te begin, wat restaurante se sake behoort te help. Alkoholverkope word wel steeds by restaurante, en elders, verbied.

Marthinus de Bruin van CityBug sê interprovinsiale reis is van kardinale belang vir hulle.
Hulle het die optog in hul massas ondersteun, omdat toerisme ‘n groot deel van hul onderneming uitmaak.
Die CityBug gelukbringer, asook die van Canary Walk, het saamgery.
Volgens De Bruin is mense skrikkerig om te reis, maar die permitte wat benodig word om ‘n provinsiale grens oor te steek is ook ‘n groot kopseer.
Die bedryf ly erg skade en ander stede het reeds die Laeveld se groep met hul stadige optogte begin nadoen.

Mmamoloko Kubayi-Ngubane het verder finansiële hulp vir die toerismebedryf en toergidse aangekondig. Sy sê hul fondse is beperk.
Langley sê weer te veel operateurs het nog geen geldelike ondersteuning ontvang nie.
Hy het sedert die eerste optog weer aan die LUR geskryf, maar nog geen terugvoer ontvang nie. Hy het intussen ook aan president Cyril Ramaphosa oor hul benarde situasie geskryf, en ander aangemoedig om dieselfde te doen.

“Ons het ‘n marathon begin en kan nog nie die eindstreep sien nie.
Ons moet vasbyt. Ons moenie opgee nie. Ons sal daar uitkom. Hoe dit gaan uitspeel weet ek nie.
“Mense is kwaad, maar ons kan nie geweldadig raak nie,” het hy bygevoeg. “Dit is baie frustrerend, maar onthou dat die buitelandse toeriste sien hoe ons hierdie hanteer.”
Hulle beplan moontlik weer ‘n optog op 5 Augustus en 14 Augustus.
Besoek Open South African Tourism op Facebook vir meer inligting.


×