100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Inperking inspireer eerste kinderboek

Written by on February 19, 2021

Hoërskool Nelspruit se Afrikaansonderwyseres, Martie Naudé, het die grendeltydperk vroeg verlede jaar gebruik om haar kreatiwiteit vrye teuels te gee – en haar eerste kinderboek te skryf.
Sy gee “Die Padonkels van Hoekomsberg” self uit onder die skrywersnaam Karools Vorster.
“Karools is die naam van my eerste troeteldier en Vorster is my ma se nooiensvan. Dis sommer simpel, maar ek het gedink dit is die naam wat ek wil gebruik,” sê sy.
Die Padonkels se storie handel oor ‘n eenvoudige, gelukkige gesinnetjie en hul vreemde diere in hul ongewone wêreld.
Hoewel haar eie seuns dol is oor die boek, is die Padonkels nie op haar regte gesin geskoei nie.

“As dit nie vir Covid-19 was nie, sou die Padonkels nooit gebore geword het nie,” sê Naudé.
Sy het nog altyd die droom gehad om stories neer te pen, maar as ‘n baie betrokke onderwyseres het sy net nooit die tyd gehad om aandag daaraan te gee nie. Toe gebeur die inperking.
“Ek het nog altyd net opstelle gelees en gemerk en nooit gedink dat ek uiteindelik ‘n storie sal kan skryf en dit publiseer nie,” sê sy.
Die grendeltydperk het haar die tyd gegee “om te dink en te besef ek kan kreatief wees op my eie”.
Sy het op ‘n program afgekom wat mense leer hoe om boekte te skryf en toe self probeer.
“As ek terugdink is dit so logies. Dit was nog altyd daar, maar ek moes tyd kry om te besef dat ek regtig daarvan hou.
“Maar my droom, hoekom ek so opgewonde is, is om ‘n hele reeks boekies van die Padonkels te skryf. Hierdie is die inleidingsboek oor die gesin.”
Sy is reeds klaar met die tweede aflewering in die Padonkels se avontuur én sy beplan vele meer.



Karen Breytenbach het die boek geïllustreer en is reeds besig met die tweede een.
“Ons kliek net,” sê Naudé. “Sy teken dit soos sy wil en as ek dit sien dink ek dit is wat ek wou gehad het.”
Die skrywer se wens is dat hierdie boek baie ure se voor- en saamlees en saamluister sal meebring. “As ek terugdink aan my grootwordjare dan dink ek aan die tye toe my ma vir my stories gelees het. Ek koester daardie spesiale tye nou nog in my hart.”
Om die “Die Padonkels van Hoekomsberg” te bestel, kontak haar by [email protected].


×